hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 13 Die Boodskap (DB)

God se nuwe wêreld kom en jy sal daarvan weet

1. Terwyl Jesus-hulle so uit die tempelterrein stap, sê een van sy volgelinge vir Hom: “Here, kyk hierdie massiewe rotsblokke waarmee die tempel gebou is. Is die gebou nie pragtig nie?”

2. “Sien julle al hierdie groot geboue?” vra Jesus. “Hulle sal tot op die grond toe afgebreek word. Daar sal nie een klip op ’n ander een gelos word nie.”

3. ’n Rukkie later gaan Jesus teen die hang van die Olyfberg sit. Van daar af kon ’n mens die tempel mooi sien. Omdat daar nie ander mense by hulle was nie, vra Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas Hom toe:

4. “Vertel ons asseblief meer. Wanneer gaan al hierdie vreeslike dinge gebeur? Op watter manier gaan ons gewaarsku word dat die verwoesting gaan begin? Is daar tekens wat ons kan dophou?”

5. “Julle moet versigtig wees,” sê Jesus. “Daar sal baie mense kom wat julle op ’n dwaalspoor sal wil sit en baie sal sowaar agter hulle aanloop.

6. Hulle sal kom en sê dat hulle die redder is en my Naam daarvoor gebruik.

7. Moenie skrik as julle hoor dat mense begin oorlog maak nie. Dit is dinge wat moet gebeur, maar dit beteken nog nie dat die einde hier is nie.

8. Nasies sal met mekaar baklei oor wie die sterkste is en die een heerser sal die ander een probeer onderkry. Kos gaan ook met tye baie skaars word en op ander plekke sal daar aardbewings wees. Dit sal die eerste tekens wees dat die einde aan die kom is, net soos die pyne wat ’n swanger vrou kry die teken is dat die kind op pad is.

9. “Kyk ook wat alles met julle gaan gebeur. Mense sal julle voor die hof sleep en julle voor almal verneder en slaan. Omdat julle my volgelinge is, sal julle voor die leiers van die wêreld aangekla word, maar dit sal julle die kans gee om vir hulle van My te vertel.

10. Voordat die einde kom, moet die goeie nuus eers aan al die nasies vertel word.

11. En as hulle julle in die tronk stop of voor die hof sleep, moenie bekommerd wees oor wat julle gaan sê nie. “Die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik help om die regte dinge te sê. Dit sal nie julle wees wat praat nie, maar die Heilige Gees.

12. “Dit sal so sleg gaan dat ’n broer niks daarvan sal dink om sy eie broer te verraai sodat hy doodgemaak kan word nie. Pa’s sal dit ook aan hulle kinders doen. Kinders sal ook nie meer na hulle ouers wil luister nie. Hulle sal teen hulle ouers draai en nie omgee om hulle te laat doodmaak nie. Mense sal niks meer met julle te doen wil hê nie omdat julle aan My behoort. Hulle sal julle sleg behandel waar hulle kan.

13. Maar as iemand nie aan die druk toegee nie, maar aan my kant bly staan tot die bitter einde toe, sal God hom in sy nuwe wêreld verwelkom.

14. “Julle moet mooi begryp wat Ek vir julle wil sê. As julle daardie veragtelike ‘ding’ wat alles net wil stukkend maak en vernietig in die tempel sien staan waar dit nie eens behoort te kom nie, moet al die mense in Judea sorg dat hulle so gou moontlik in die berge gaan wegkruip.

15. As jy op jou stoep sit, moenie eers in die huis ingaan om enigiets te gaan haal nie.

16. As jy op die lande werk, moenie huis toe gaan om jou eers beter te gaan aantrek nie. Jy moet net maak dat jy wegkom.

17. Ek kry veral vroue jammer wat in daardie stadium babatjies het of verwag.

18. Vra God mooi dat hierdie dinge nie in die koue winter moet gebeur nie. Dit gaan verskriklik wees. Mense gaan ongelooflik swaarkry.

19. Nog nooit in die geskiedenis van hierdie wêreld was daar so iets nie en so iets sal ook nooit weer gebeur nie.

20. As God nie besluit het om die einde gouer te laat aanbreek nie, sou niemand dit gemaak het nie. Maar gelukkig het God die verskriklike tyd kortgeknip ter wille van daardie mense wat Syne is omdat Hy hulle vir Hom gekies het.

21. “As iemand julle in daardie stadium wil wysmaak dat dié of daardie man die verlosser is wat sou kom, moet julle julle glad nie daaraan steur nie. Lag hom uit.

22. Daar gaan mense kom wat sal sê dat hulle spesiale boodskappers van God is of dat hulle die redder is wat God gee, maar alles sal net ’n klomp leuens wees. En dit gaan nie net by praatjies bly nie. O nee, glo My, hulle gaan sulke wonderlike dinge doen dat selfs die mense wat God vir Hom gekies het, sal begin wonder of hulle nie dalk die waarheid praat nie. Hulle sal dit oorweeg om die regte pad te los en agter daardie persone aan te gaan - as so iets hoegenaamd denkbaar is.

23. Julle moet asseblief baie daarvoor oppas. Onthou, Ek het julle betyds gewaarsku.

24. “Julle sal al hierdie verskriklike dinge deurmaak: die son sal skielik dowwer word en nie meer mooi skyn nie, en die maan sal glad nie meer opkom nie;

25. die sterre sal uit die hemel val, en die natuurkragte gaan heeltemal deurmekaargekrap word.

26. “Dan sal die groot oomblik aanbreek. Voor die oë van die mense sal die Seun van die mens op die wolke verskyn. Almal sal sy geweldige krag en grootheid sien.

27. Hy sal die mense wat Hy gekies het van elke hoekie van die aarde af bymekaar gaan maak. Daarmee sal sy engele Hom help.

28. “Daar is nog iets anders wat Ek wil hê julle moet weet. Ek gaan dit vir julle verduidelik met die voorbeeld van ’n vyeboom. As ’n vyeboom nuwe, sagte takkies maak en die blaartjies begin uitkom, weet julle dat die somer op pad is. Dieselfde geld vir julle vraag hoe ’n mens kan weet of die einde naby is.

29. As julle hierdie dinge sien gebeur, moet dit vir julle soos die vyetakkies en blare wees: dit moet vir julle sê dat die einde om die draai is.

30. Sowaar, dit gaan nie lank wees nie. Die mense wat ons ouderdom is, sal nog leef wanneer dit gebeur.

31. Daar sal ’n tyd kom wanneer die hemel en die aarde nie meer daar is nie. Maar daar sal nooit ’n tyd kom wanneer my woorde nie meer waar sal wees nie.”

God sal besluit presies wanneer alles gaan gebeur

32. “Net God weet die presiese datum en tyd wanneer die einde gaan kom. Die engele weet dit nie en ook nie sy Seun nie, net Hy, want Hy is die Een wat sal besluit wanneer dit sal wees.

33. Wees daarom wakker en op julle hoede sodat julle nie onkant gevang word nie. Julle weet mos nie wanneer die einde gaan kom nie.

34. “Laat Ek dit vir julle verduidelik met ’n storie. Dit is soos ’n man wat vir ’n lang ruk van sy huis af weggaan. Hy reël alles mooi. Sy werkers moet na sy huis kyk en daarom gee hy vir elke werker iets om te doen. Vir een sê hy om by die deur wag te hou.

35. Hou goed wag, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis skielik daar instap nie. Dit kan enige tyd wees: in die middel van die nag, vroeg in die oggend, as die son sak of in die aand, ja, enige tyd.

36. As hy skielik die deur oopstoot, moet hy jou nie lekker opgekrul en vas aan die slaap kry nie.

37. “Laat Ek dit vir elkeen weer sê en mooi beklemtoon: julle moet wakker en op die uitkyk wees, want Ek kom terug.”