hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 11 Die Boodskap (DB)

Jesus ry Jerusalem in

1. Hulle kom toe by Betfage en Betanië teen die hange van die Olyfberg aan. Dit was nie ver van Jerusalem af nie. Jesus vra toe twee van sy volgelinge:

2. “Gaan na die dorpie toe hier voor ons. Nes julle by die dorpie inkom, sal julle ’n jong donkie kry waarop niemand nog ooit gery het nie. Maak hom los en bring hom hier.

3. As iemand julle voorkeer en vra wat julle doen, sê vir hom: ‘Die Here het hierdie donkie nodig. Sodra Hy klaar is, sal Hy die donkie terugstuur.’”

4. Hulle is toe daar weg en kry die donkie wat in die straat by ’n deur vasgemaak staan.

5. Toe hulle die donkie losmaak, is daar dadelik ’n paar mense by wat wil weet wat hulle doen.

6. Hulle sê toe wat Jesus gesê het. Die mense was tevrede en het hulle hulle gang laat gaan.

7. Toe hulle met die donkie by Jesus kom, gooi hulle van hulle klere oor die donkie se rug. Jesus klim toe op die donkie. Die mense was baie opgewonde en wou wys dat Jesus baie spesiaal is.

8. Baie van hulle het los stukke klere op die pad voor Hom oopgegooi terwyl ander die pad besaai het met groen takkies en blare wat hulle langs die pad gepluk het.

9. Reg rondom Jesus het mense begin skree: “Hoera! Prys Hom wat in die Naam van die Here self kom.

10. Hy gaan heers soos ons groot koning Dawid eens op ’n tyd geheers het. Mag God hierdie heerskappy groot en wonderlik maak. Prys God in die hemel!”

11. Toe Jesus in Jerusalem aankom, is Hy dadelik na die tempel toe. Hy het ’n bietjie daar rondgekyk, maar dit was al laat. Daarom het Hy en sy volgelinge besluit om na Betanië terug te gaan.

Jesus maak sy Vader se huis skoon

12. Die volgende dag is Jesus-hulle terug Jerusalem toe. Op pad het Jesus honger geword.

13. Hy sien toe ’n entjie van hulle af ’n vyeboom met blare aan. Hy gaan kyk toe of daar iets aan die boom is om te eet. Dit was ongelukkig nie vyetyd nie, met die gevolg dat die boom net vol blare was.

14. “Niemand sal ooit weer van jou vrugte eet nie,” sê Jesus toe vir die boom. Sy dissipels het Hom dit hoor sê.

15. In Jerusalem is Jesus dadelik tempel toe. Langs die tempelgebou was daar ’n groot plein. Daar was ’n muur om sodat dit as deel van die tempel beskou is. Daar was ’n hele bedrywigheid soos die mense diere gekoop en verkoop het wat nodig was vir die offers in die tempel. Daar en dan het Jesus al die besigheidsmense begin uitjaag. Daar was ook mense wat geld geruil het. Daar kon jy jou geld omruil vir die regte geld wat vir die tempelbelasting nodig was. Jesus het al hulle tafels omgekeer en die stoele van die duiweverkopers omgestamp.

16. As iemand nog iets deur die plein wou dra om te gaan verkoop, het Jesus hom voorgekeer en uitgejaag.

17. Jesus verduidelik toe vir hulle wat aangaan: “Staan daar nie in die Skrif nie: ‘Die bedoeling is dat al die mense in die wye wêreld My moet kom aanbid hier waar Ek woon’? Julle het dit egter die bymekaarkomplek van diewe en skelms gemaak.”

18. Die Joodse godsdienstige leiers het daarvan gehoor. Hulle het toe planne begin beraam om Jesus uit die weg te ruim. Hulle was bang dat Jesus te gewild sou begin word, want hulle het geweet dat die mense baie beïndruk was met wat Jesus alles vir hulle vertel het.

19. Toe dit begin donker word, is Jesus-hulle weer uit Jerusalem uit weg.

20. Die volgende môre toe hulle weer by daardie vyeboom verbystap, sien hulle dat die vyeboom wortel en tak dood is.

21. Petrus onthou toe wat Jesus die vorige dag gesê het: “Here, kyk! Die boom waarmee U gister so kwaai gepraat het, is dood.”

22. Jesus sê toe: “Vertrou God vir alles. Luister nou mooi. As julle God regtig vertrou, sal julle dinge kan doen wat dít wat met die vyeboom gebeur het na kinderspeletjies sal laat lyk.

23. Ek praat van groot dinge soos om vir die berg te sê om op te staan en in die see te gaan spring. En as jy nie wonder of dit gaan gebeur nie, maar God totaal vertrou, sal jy dit sowaar met jou eie oë sien gebeur.

24. Daarom sê Ek vir julle: as julle van God iets vra, moet julle ook nie wonder of julle dit gaan kry nie. Julle moet so op God vertrou dat dit vir julle eintlik moet voel of julle dit al klaar gekry het, en God sal dit vir julle gee.

25. “En wanneer julle bid, moet julle eers mooi dink of daar nie iemand is vir wie julle kwaad is of met wie julle vassit nie. Raak eers van al daardie slegte gevoelens ontslae sodat julle niks meer teen daardie persoon hou nie. Dan sal julle Vader in die hemel ook die verkeerde dinge oorsien wat julle doen.”

Wie gee regtig die gesag?

27. In Jerusalem is Jesus weer reguit tempel toe. Terwyl Hy daar rondstap, kom die godsdienstige leiers van die Jode na Hom toe.

28. “Wie gee jou die reg om al hierdie dinge te doen?” val hulle Hom aan. “Wie’t vir jou gesê jy mag dit doen?”

29. Jesus reageer toe so: “Laat Ek julle ook ’n bietjie ’n vraag vra en as julle My kan antwoord, sal Ek vir julle sê wie My die reg gee om hierdie dinge te doen.

30. Het God vir Johannes die Doper gestuur om te doop of het hy en ’n klompie ander mense sommer self besluit om dit te doen? Hoe dink julle?”

31. Hulle hou toe ’n bietjie kajuitraad en besef hulle is vas. Sê hulle: “God het hom gestuur,” sal Jesus vir hulle vra waarom hulle dan nie geglo het wat Johannes gesê het nie.

32. As hulle egter sê: “Dit was sommer die idee van mense,” is hulle in die moeilikheid by die gewone mense, want almal het geweet dat Johannes regtig iemand was wat van God af gekom het.

33. Hulle sê toe maar vir Jesus: “Ons weet nie.”

34. Jesus sê toe natuurlik: “Dan gaan Ek ook nie vir julle sê wie My die reg gegee het om hierdie dinge te doen nie.”