Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 12:2-22 Die Boodskap (DB)

2. Toe die oestyd kom, stuur hy een van sy werkers om sy deel van die druiwe te gaan haal.

3. Toe die werker daar aankom, gryp die huurders hom, gee hom ’n paar taai klappe en stuur hom sonder ’n enkele druiwekorrel daar weg.

4. Weer probeer die eienaar - hy stuur nog ’n werker. Met hom het dit nog slegter gegaan as met die vorige een. Die huurders het hom oor die kop geslaan en liederlik beledig.

5. Nog ’n keer het die eienaar probeer, en nog ’n keer, en nog ’n keer. Maar die huurders wou niks weet nie. Hulle het van die werkers vir wie die eienaar gestuur het, aangerand en ander het hulle selfs doodgemaak.

6. “Uiteindelik was daar nog net een oor wat hy kon stuur en dit was sy eie seun. Hy het sy seun baie liefgehad en het eers mooi daaroor gedink. ‘Hulle sal my seun darem sekerlik met groter respek behandel,’ het hy geredeneer.

7. “Toe die seun daar opdaag, sê die huurders vir mekaar: ‘Daar kom die een aan wat hierdie grond eendag gaan erf.

8. As ons hom doodmaak, sal daar niemand wees wat die grond kan erf nie en dan sal ons dit maklik in die hande kan kry.’ Hulle doen dit toe. Sy lyk het hulle sommer daar buite die wingerd gegooi.

9. “Wat dink julle het die eienaar van die wingerd toe gedoen? Ja, hy het self gekom en al daardie huurders laat doodmaak. Die wingerd het hy toe vir ander gegee.

10. Het julle nog nooit die stukkie in die Skrif gelees nie waar daar staan: ‘’n Klip wat die bouers nie eens wou gebruik nie en eenkant toe gegooi het, het God reg bokant die voordeur ingebou vir almal om te sien.

11. Die Here self het dit gedoen, en hoe wonderlik is dit nie vir ons om te sien nie’?”

12. Die Joodse godsdienstige leiers het toe eers planne gemaak om Jesus in die tronk te stop, want hulle het goed geweet dat die verhaal wat Jesus vertel het teen hulle gemik was. Hulle was egter versigtig vir die gewone mense. Daarom het hulle Jesus vir eers gelos en weggegaan.

13. Na ’n rukkie stuur hulle ’n paar mans na Jesus toe. Hulle was van die godsdienstige Jode uit die Fariseërs en van die ondersteuners van Herodes. Hulle moes Jesus probeer uitlok om iets verkeerds te sê wat hulle ’n rede sou gee om Hom te laat vang.

14. Hulle het toe so begin: “Meneer, ons weet jy leer die mense baie dinge oor God. Ons het jou leer ken as iemand wat net die waarheid praat. Jy gee nie om wat hierdie of daardie belangrike mense van jou sê of dink nie, want vir jou is alle mense dieselfde. Jy loop God se pad reguit en leer die mense om dit ook te doen. Sê vir ons, dink jy dit is reg om so baie belasting aan die keiser te betaal? Moet ons hom belasting betaal of nie, want hy is mos ’n koning van ’n vreemde land wat net ons geld wil hê?”

15. Jesus het goed geweet dat hulle ’n klomp tweegesigte was wat Hom wou uitvang. Hy vra hulle toe sommer reguit: “Vir wat probeer julle My uitvang? Bring asseblief vir My ’n geldstuk waarmee ons belasting betaal sodat Ek daarna kan kyk.”

16. Hulle bring toe vir Hom so ’n geldstuk (want daar was in daardie tyd baie verskillende soorte geldstukke en ’n mens kon nie almal vir belasting gebruik nie). Jesus vra toe: “Kyk mooi na die geld; wie se beeld is hierop en wie se naam staan hier geskryf?”“Die keiser s’n,” sê hulle.

17. “Nou ja,” antwoord Jesus, “as die geld met die keiser se beeld daarop die keiser s’n is, gee dit vir hom. Maar onthou, julle is volgens God se beeld gemaak. Julle behoort aan Hom en daarom moet julle seker maak dat julle julleself aan God gee.”Hulle het nie geweet wat om te sê nie, want hulle was verstom oor die slim manier waarop Jesus hierdie moeilike vrae hanteer het.

18. Daar was ’n groep godsdienstige mense onder die Jode wat uit die ryk en belangrike families van Jerusalem gekom het. Hulle het hulleself Sadduseërs genoem. Hulle het gesê as ’n mens dood is, is jy dood. ’n Mens sal met ander woorde nie weer lewendig word nadat jy dood is nie.

19. Hulle kom toe ook om Jesus uit te vra. “Ons sien jy leer die mense baie dinge oor God. Nou ja, Moses het vir ons geskryf dat as ’n getroude man sonder kinders doodgaan, sy broer met sy weduwee moet trou. Hy moet dan ’n seun in sy broer se plek kry om te sorg dat die familienaam nie uitsterf nie.

20. Sê nou daar is sewe broers in ’n familie en die eerste een sterf voordat hy ’n kind kon kry.

21. Volgens Moses se wet moet die tweede broer nou met die vrou trou. Sê nou hulle het ook nie kinders nie.

22. So gaan dit met al sewe die broers. Uiteindelik is die vrou ook dood, sonder dat sy ’n kind gehad het.

Lees volledige hoofstuk Markus 12