Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 11:18-31 Die Boodskap (DB)

18. Die Joodse godsdienstige leiers het daarvan gehoor. Hulle het toe planne begin beraam om Jesus uit die weg te ruim. Hulle was bang dat Jesus te gewild sou begin word, want hulle het geweet dat die mense baie beïndruk was met wat Jesus alles vir hulle vertel het.

19. Toe dit begin donker word, is Jesus-hulle weer uit Jerusalem uit weg.

20. Die volgende môre toe hulle weer by daardie vyeboom verbystap, sien hulle dat die vyeboom wortel en tak dood is.

21. Petrus onthou toe wat Jesus die vorige dag gesê het: “Here, kyk! Die boom waarmee U gister so kwaai gepraat het, is dood.”

22. Jesus sê toe: “Vertrou God vir alles. Luister nou mooi. As julle God regtig vertrou, sal julle dinge kan doen wat dít wat met die vyeboom gebeur het na kinderspeletjies sal laat lyk.

23. Ek praat van groot dinge soos om vir die berg te sê om op te staan en in die see te gaan spring. En as jy nie wonder of dit gaan gebeur nie, maar God totaal vertrou, sal jy dit sowaar met jou eie oë sien gebeur.

24. Daarom sê Ek vir julle: as julle van God iets vra, moet julle ook nie wonder of julle dit gaan kry nie. Julle moet so op God vertrou dat dit vir julle eintlik moet voel of julle dit al klaar gekry het, en God sal dit vir julle gee.

25. “En wanneer julle bid, moet julle eers mooi dink of daar nie iemand is vir wie julle kwaad is of met wie julle vassit nie. Raak eers van al daardie slegte gevoelens ontslae sodat julle niks meer teen daardie persoon hou nie. Dan sal julle Vader in die hemel ook die verkeerde dinge oorsien wat julle doen.”

27. In Jerusalem is Jesus weer reguit tempel toe. Terwyl Hy daar rondstap, kom die godsdienstige leiers van die Jode na Hom toe.

28. “Wie gee jou die reg om al hierdie dinge te doen?” val hulle Hom aan. “Wie’t vir jou gesê jy mag dit doen?”

29. Jesus reageer toe so: “Laat Ek julle ook ’n bietjie ’n vraag vra en as julle My kan antwoord, sal Ek vir julle sê wie My die reg gee om hierdie dinge te doen.

30. Het God vir Johannes die Doper gestuur om te doop of het hy en ’n klompie ander mense sommer self besluit om dit te doen? Hoe dink julle?”

31. Hulle hou toe ’n bietjie kajuitraad en besef hulle is vas. Sê hulle: “God het hom gestuur,” sal Jesus vir hulle vra waarom hulle dan nie geglo het wat Johannes gesê het nie.

Lees volledige hoofstuk Markus 11