Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:15-27 Die Boodskap (DB)

15. “En dan die saad wat in die goeie grond geval het ... Dit is daardie mense wat die boodskap van God gehoor het en diep daardeur geraak is. Hulle begin dadelik leef soos God dit wil hê. In alles wat hulle sê of doen, borrel hulle geloof eenvoudig uit. Hulle geloof lewer van dan af heeltyd vrugte op.”

16. Jesus sê toe: “Julle weet tog baie goed dat ’n mens nie ’n lig aanskakel en dit dan met ’n kombers toegooi nie. ’n Mens vat ook nie ’n lamp en gaan steek dit onder jou bed weg nie. Natuurlik nie. Nee, ’n mens sit ’n lamp in die middel van ’n kamer waar dit die beste lig kan gee. Dan kan almal sien wat om hulle aangaan.

17. “’n Mens kan niks wegsteek wat jy doen nie. Geen woord of daad is so ’n groot geheim dat God nie daarvan weet nie. Alles sal aan die lig kom. Alles wat mense doen, sal uiteindelik bekend wees.

18. “Luister na dit wat julle oor God hoor, en gaan doen dit. Hoe meer julle doen wat God sê, hoe meer sal sy ongelooflike goedheid in julle lewens instroom. Aan die ander kant, as julle nie luister na wat God sê nie, sal julle lewens op die ou end in chaos eindig. Dit help nie julle dink julle saak met God is in orde net omdat julle allerlei godsdienstige dinge doen nie. As julle lewens nie heeltemal verander nie, gaan julle alles verloor wat julle dink julle het.”

19. Jesus was nog aan die praat toe sy ma en broers daar aankom. Hulle wou iets vir Hom sê. Maar daar was so baie mense dat hulle nie naby Hom kon kom nie.

20. Iemand het hulle herken en gou vir Jesus gaan sê: “U ma en broers is daar buite. Hulle wil graag met U praat.”

21. Jesus sê toe: “Weet julle wie regtig my familie is? Almal wat luister na wat Ek oor God se nuwe wêreld sê, en dit gaan doen. Hulle is my ma, my broers, my susters.”

22. Op ’n dag het Jesus vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan daar na die oorkant van die See van Galilea toe.” Hulle almal het toe in ’n boot geklim en na die oorkant toe begin vaar.

23. Jesus het rustig in die boot gaan lê en aan die slaap geraak. Later het ’n groot storm op die see opgesteek. Die wind het kwaai begin waai en die see het skielik baie onstuimig geword. Kort voor lank het groot golwe oor die boot geslaan sodat dit vol water begin word het. Later het die dissipels gedink die boot gaan sink.

24. Toe hulle rondkyk waar Jesus is, kom hulle agter Hy lê nog vas aan die slaap. Baie benoud het hulle Hom wakker geskud: “Here, Here, word wakker! Ons is besig om te vergaan en U lê en slaap! Kom help ons!”Jesus het opgestaan en vir die wind en die woeste golwe gesê: “Bedaar! Hou op met waai!” Hy het ook vir die water gesê om kalm te word. En toe, skielik, was alles oor. Die wind het bedaar en die see was weer spieëlglad. Alles was doodstil.

25. Toe draai Jesus na sy dissipels en vra vir hulle: “Waar is julle geloof heen?” Maar hulle was te bang en te verbaas om enigiets te sê.Hulle het onderlangs vir mekaar gefluister: “Wat ’n ongelooflike wonderwerk! Wie is Jesus regtig? Hy gee net ’n bevel, dan luister selfs die wind en die water na Hom.”

26. Daarna het hulle met die boot in die rigting van die land van die Geraseners, aan die oorkant van Galilea, geseil.

27. Daar aangekom, het ’n man sonder ’n draad klere aan vinnig op Jesus afgestap. Hy was al ’n lang tyd in die mag van ’n klomp duiwels; daarom dat hy nie meer klere gedra het nie. Hy het sommer daar buite tussen die grafte gebly. Die duiwels het hierdie arme man omtrent verrinneweer. Baiekeer het hulle hom soos ’n mal mens laat rondhardloop en skree. Ander mense het tevergeefs probeer om hom in toom te hou. Hulle het sy hande met swaar kettings vasgebind en dik boeie om sy voete gesit, maar hy het dit gebreek en dan weggehardloop. Later het hy omtrent heeltyd in die woestyn rondgeswerf.

Lees volledige hoofstuk Lukas 8