Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 5:4-20 Die Boodskap (DB)

4. Later, toe Jesus klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Vat die boot dieper in die see in en gooi dan weer julle visnette in.”

5. Simon antwoord toe: “Ons het die hele nag op die see deurgebring en ons het net mooi niks gevang nie. Maar omdat U so sê, sal ek my visnette weer ’n keer laat sak!”

6. So gesê, so gedaan. Skaars het Simon sy nette ingegooi of hulle was propvol vis. Daar was so baie vis dat die nette wou skeur.

7. “Kom help ons. Maak gou!” het hy vir sy vriende in ’n ander boot daar naby hulle geskree. Later was albei bote vol vis. Hulle was so swaar gelaai dat hulle amper gesink het.

8. Simon Petrus was verslae oor wat gebeur het. Hy het op sy knieë voor Jesus neergeval en gesê: “Here, U kan nie langer by my bly nie, want ek is ’n groot sondaar.”

9. Petrus en almal saam met hom op die bote was verstom oor hierdie groot visvangs.

10. Ook Petrus se vriende, Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, was daardeur aangegryp.Jesus sê toe vir Petrus: “Moenie bang wees nie. Jou werk begin nou eers. Van nou af gaan jy mense vang. Jy sal maak dat baie mense in My glo.”

11. ’n Rukkie later, toe hulle die bote veilig vasgemeer het, het hierdie mans hulle bote net daar laat staan en volgelinge van Jesus geword.

12. In een van die dorpe in Galilea waar Jesus aangedoen het, was daar ’n melaatse. Melaatsheid was ’n velsiekte wat veroorsaak het dat mense eenkant moes gaan bly. Toe hy vir Jesus sien, het hy laag voor Hom op die grond gebuig. Toe smeek hy Jesus: “Here, as U wil, kan U my gesond maak. Dan sal ek weer rein wees. Dan kan ek weer ’n gewone lewe lei; ek sal weer vriende hê en in die tempel kan gaan aanbid.”

13. Jesus sit toe sy hand op die melaatse en sê vir hom: “Ek wil dit graag doen. Word gesond. Nou dadelik!” Net daar het die velsiekte aan die man se lyf verdwyn. Sy vel was glad en skoon. Hy was heeltemal gesond.

14. Jesus sê toe vir hom: “Moet asseblief nie vir almal gaan vertel wat met jou gebeur het nie. Gaan reguit na die priester toe. Wys vir hom dat jy gesond is. Nadat hy gesien het dat jou vel weer normaal is, moet jy die offer bring wat Moses voorgeskryf het vir mense wat gesond geword het. So sal almal kan sien wat met jou gebeur het. Jou dade sal harder praat as al jou woorde.”

15. Die nuus oor Jesus het soos ’n veldbrand versprei. ’n Groot massa het na Hom toe gestroom om te hoor wat Hy sê en om gesond gemaak te word.

16. Jesus moes gereeld na stil plekke toe uitwyk om ’n bietjie stilte te hê en om te bid.

17. Op ’n dag was Jesus weer besig om die mense te leer. Baie godsdienstige leiers het ook kom luister na wat Hy te sê gehad het. Fariseërs en kenners van die wet van Moses van oor die hele Galilea en Judea, selfs uit Jerusalem, was in die gehoor. Deur die krag van die Here het Jesus baie siekes gesond gemaak.

18. Intussen het daar ’n klompie mense aangekom wat ’n verlamde man op ’n draagbaar gedra het. Hulle wou hê dat Jesus hom gesond moet maak.

19. Maar daar was so baie mense dat hulle nie naby Hom kon kom nie. Hulle het toe op die dak geklim, ’n klomp dakteëls uitgehaal en die man op die draagbaar met toue laat afsak tot reg voor Jesus.

20. Jesus was baie beïndruk met hulle geloof. Hy sê toe vir die verlamde man: “Vriend, Ek gaan jou ’n goeie rede gee om weer te lag. Ek gaan sorg dat God nie meer vir jou kwaad sal wees oor jou sondes nie. Jou sondes is vergewe.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 5