Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 16:3-18 Die Boodskap (DB)

3. “Die bestuurder het besef hy is in die moeilikheid. Hy dink toe by homself: ‘Wat doen ek nou? Ek gaan definitief in die pad gesteek word. En werk is deesdae maar skaars. Ek sien regtig nie kans om in iemand se tuin te gaan werk of om met ’n bordjie om my nek in die straat te staan en geld bedel nie.’

4. “Die man kry toe ’n plan: ‘Ja, nou weet ek! Ek gaan ten minste sorg dat ek op goeie voet bly met al die sakemanne wat nog aan my baas geld skuld. Dalk het een van hulle vir my ’n werk.’

5. “Daar en dan het die bestuurder toe almal wat aan sy baas geld skuld, laat roep. Toe die eerste een daar opdaag, sê hy vir hom: ‘Ek sien jy betaal nie jou skuld nie. Sê my, hoeveel skuld jy aan my baas?’

6. “‘Ek het 100 vate olie by hom op skuld geneem,’ antwoord die man.“Toe sê die bestuurder: ‘Wel, ek verminder jou skuld nou dadelik met die helfte na net 50 vate olie.’

7. “Die bestuurder roep toe die volgende persoon in en vra vir hom: ‘Hoeveel skuld jy aan my baas?’“‘Ek het ’n groot klomp koring by hom op skuld gekoop. Ek skuld hom 100 bale koring.’“‘Jy is baie gelukkig,’ sê die bestuurder toe. ‘Want ek verminder jou skuld van vandag na 80 bale koring. Dis al wat jy nou moet terugbetaal.’

8. “Die ryk man het intussen gehoor wat sy skelm bestuurder doen. Toe hulle twee later die dag ontmoet, het hy hom egter nie afgedank nie, maar sommer daar op die plek gelukgewens met sy goeie plan. Almal in die dorp het immers nou gepraat oor hoe barmhartig die ryk man is.”

9. Toe sê Jesus: “Weet julle, so gaan dit dikwels in die sakewêreld. Baie sakemense wat hulle nie aan die Here steur nie, is partymaal besig met skelmstreke. Hulle help mekaar om ander mense te verkul sodat hulle gou ryk kan word. Natuurlik kan julle by sakemense leer hoe om op te tree. Maar moet egter nie saam met skelms agter geld aanhardloop nie.

10. “Julle moet eerlik wees, selfs ook in die heel kleinste dingetjies wat julle doen. As julle vertrou kan word met kleingeld, sal julle ook vertrou kan word met ’n hele sak vol geld. Aan die ander kant, as julle nie eens vertrou kan word met ’n paar sent nie, hoe sal julle dan eerlik wees wanneer julle besigheid doen?

11. Moenie toelaat dat die geldgod julle in sy kloue beetkry nie. Dan gaan julle ander mense probeer uitbuit.

12. As julle nie eerlik kan wees met geld in hierdie oneerlike wêreld waarin julle leef nie, hoe sal Ek dan ooit my nuwe wêreld aan julle sorg kan toevertrou?

13. “Maak ’n keuse vir wie julle wil werk: óf vir God, óf vir die geldgod. Julle kan nie vir albei tegelyk werk nie. Net soos dit onmoontlik is om twee voltydse werke te hê, is dit onmoontlik om voor twee here te buig. So, kies!”

14. ’n Klompie Fariseërs, wat baie lief vir geld was, het gehoor wat Jesus sê en begin toe met Hom spot.

15. “Ja, spot maar!” het Jesus geantwoord. “Julle maak asof julle nooit ’n voet verkeerd sit nie. Julle beïndruk almal met julle vroomheid, maar God kyk dwarsdeur julle. Hy weet baie goed wat binne-in julle aangaan. En weet julle wat? Hy hou niks van julle nie. Julle walg Hom!“Maar Ek het nog ander slegte nuus vir julle: julle godsdiens is uit die mode. Ja, julle het reg gehoor: dis uitgedien! Al julle wette en reëls behoort tot die verlede.

16. Tot onlangs toe het God nog die wet en profete gebruik om sy wil bekend te maak. Maar daardie tyd is vir altyd verby. Johannes die Doper was die laaste een van die profete. Van nou af gaan dit net oor God se splinternuwe wêreld. Ek maak dit bekend. En mense val nou omtrent oor hulle voete om daar in te kom. Hulle storm oral in die koninkryk in.

17. “Maar verstaan My goed: Ek kom skaf nie die wet af nie. Dit sal bly bestaan. Solank die son nog skyn en daar sterre in die hemel is, sal elke letter van die wet van krag bly.

18. “Kom Ek verduidelik vir julle hoe julle nou die wet moet hou wanneer dit by iets soos egskeiding kom. Wel, Ek sê nou vir julle: julle mag glad nie skei nie. Wanneer julle skei en met iemand anders trou, oortree julle die wet. En elkeen wat met iemand trou wat reeds geskei het, pleeg ook egbreuk.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 16