Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 11:16-28 Die Boodskap (DB)

16. ’n Groep ander mense sê toe vir Jesus: “Doen gou vir ons ’n teken. Ons wil heeltemal seker maak dat jy aan God se kant staan soos jy sê.” Maar Jesus het geweet wat hulle dink.

17. Daarom sê Hy toe vir hulle: “Wanneer ’n klomp soldate gedurig onder mekaar aan die baklei is, sal hulle mos nooit ’n oorlog teen ’n ander leër wen nie. Net so sal ’n gesin waarin almal van vroeg tot laat aan die stry is, ook nooit gelukkig bly nie. Die een of ander tyd sal hulle uitmekaarspat. Nou ja, met Satan is dit nie anders nie.

18. As Satan teen homself oorlog verklaar en homself oral uitdryf, waar gaan hy eindig? Kort voor lank stort sy hele koninkryk in duie. Dit is presies wat sal gebeur as Ek en die duiwel sulke groot vriende is soos julle spul dink.

19. “Maar wag, party van julle dryf ook mos demone uit. As julle nou sê Ek doen dit omdat Ek die duiwel se groot vriend is, wat dan van julle? Wie se vriende is julle dan? Toe, laat julle mense self vir julle die antwoord gee!

20. As julle die regte antwoord gekry het, sal julle moet erken dat Ek die demone in God se groot krag wegjaag. Dan sal julle ook besef: oral waar Ek onder julle aan die werk is, is God aan die werk. Daar raak God se vinger grond. Daar kan julle sien hoe God se nuwe wêreld lyk.

21. “Kom Ek verduidelik dit met ’n beeld. Dink julle ’n mens kan sommer by die huis van ’n groot man wat ’n klomp wapens in sy kluis het, instap en sy goed gaan steel? Natuurlik nie. Hy sal jou mos vinnig op jou plek sit.

22. Behalwe natuurlik as jy sterker as hy is. Dan kan jy hom oorrompel en al sy goed vat en dit verdeel.

23. “Wat sê hierdie beeld vir julle? Dít: julle kan mos duidelik sien aan wie se kant Ek staan. Nou moet julle ’n keuse maak: óf julle kom staan aan my kant óf julle gaan staan aan my vyand se kant; óf julle help My om mense na God se nuwe wêreld toe te lei óf julle jaag hulle weg.

24. “Weet julle, wanneer ’n onrein gees uit ’n mens se lewe padgee, gaan soek hy vir hom ’n ander blyplek. As hy na ’n lang soektog nie ’n rusplek kry nie, sê hy vir homself: ‘Ek is moeg gesoek. Ek gaan gou kyk wat van die plek geword het waar ek eers gebly het.’

25. Daar gekom, vind hy die plek dan dolleeg, mooi skoon en reg.

26. Dan gaan haal hy sommer nog sewe ander bose geeste wat blyplek soek. En hulle is nog slegter as hy. Die hele spul van hulle gaan trek dan saam daar in. Sowaar, vir so iemand sou dit baie beter gewees het as hy nie die eerste keer uit die mag van die bose gees bevry is nie. Hy moes God liewer in sy lewe toegelaat het toe hy die keuse gehad het.”

27. Toe Jesus dit sê, roep ’n vrou uit die skare skielik opgewonde uit: “O, watter aangrypende dinge sê U nie! Hoe wonderlik moet dit nie wees om ’n kind soos U te hê nie. U ma is die gelukkigste vrou op aarde. Om te dink sy het iemand soos U in die wêreld gebring en U grootgemaak.”

28. “Ja, dis seker waar,” antwoord Jesus toe. “Maar daar is mense wat selfs nog gelukkiger as my ma is. Dit is hulle wat God se Woord hoor en dit doen.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 11