Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 10:19-36 Die Boodskap (DB)

19. “Maar Ek het nog goeie nuus vir julle: Ek gee aan julle mag oor die duiwel en oor sy handlangers se terrein waar daar baie dinge is wat julle skade kan aandoen. Julle het nou mag oor al sy bose magte. Sy slange en skerpioene sal julle geen skade aandoen nie. Omdat julle in My glo, is julle nou sterker as al my vyande.

20. Maar wag, julle moenie feesvier omdat daardie bose magte voor julle die knie buig nie. Nee, vier liewer fees omdat daar vir julle plek in my Vader se nuwe wêreld is. Julle name is klaar op die lys van die gaste wat na sy hemelse feesmaal toe genooi is.”

21. Toe het Jesus hardop begin bid. Omdat die Heilige Gees se krag in Hom was, was Hy so vol vreugde dat Hy dit eenvoudig met God moes deel: “My Vader, alles in die hemel en op die aarde behoort aan U. Ek wil vir U dankie sê dat u boodskap so duidelik en eenvoudig is. U het al u groot geheime verberg vir die groot en slim mense en dit aan die kleinste ou kindertjies kom bekendmaak. Dit was deel van u plan dat hulle in U moet glo. Ja, Vader, en nou gebeur dit ook.

22. “Vader, U het al u groot krag tot my beskikking gestel. Alles en almal behoort nou aan My. Net U ken My regtig. U weet presies wie Ek is en wat Ek hier op die aarde kom doen het. Net so weet niemand anders wie U regtig is nie, behalwe Ek self. Ek ken U deur en deur. Ander mense kan net in U glo wanneer Ek vir hulle wys wie U regtig is. Dan eers gaan hulle oë oop.”

23. Toe draai Jesus om na sy volgelinge toe en sê vir hulle: “Weet julle hoe bevoorreg julle is? Julle sien en hoor dinge wat g’n ander mens nog gesien of gehoor het nie.

24. Weet julle hoeveel profete en konings van Israel het begeer om te sien wat julle nou sien? Vir hulle was dit egter nie beskore nie. Maar julle - julle sien nou die Seun van die lewende God met julle eie oë.”

25. ’n Kenner van die wet van Moses wat na Jesus gesit en luister het, besluit toe om Hom ’n strikvraag te vra. Hy wou Jesus daar voor almal verneder. Hy staan toe op en vra ewe vroom: “Leermeester, wat moet ek doen sodat ek vir altyd in God se nuwe wêreld kan gaan bly?”

26. “Ken jy dan nie die wet nie?” het Jesus vinnig teruggevra. “Sê My ’n bietjie, wat staan daar in die wet geskryf?”

27. Die wetskenner antwoord toe: “Die wet sê jy moet die Here jou God liefhê met alles in jou: met jou wil, jou emosies, jou krag en jou denke. En jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.”

28. “Mooi so!” het Jesus gesê. “Jy het reg geantwoord. Gaan doen dit, dan sal daar vir jou ’n plek wees in God se nuwe wêreld. So eenvoudig is dit!”

29. Maar die kenner van die wet was nog lank nie klaar nie. Hy het sy strikvraag vir laaste gebêre: “Wag eers. Sê my, wie is my medemens van wie die wet praat?”

30. Jesus antwoord toe met ’n verhaal: “Weet jy, eendag was daar ’n man wat van Jerusalem na Jerigo toe gestap het. Langs die pad het ’n klomp rowers hom ingewag en hom behoorlik toegetakel. Hulle het hom ernstig aangerand, al sy geld en klere gevat en hom daar vir dood laat lê.

31. “Toevallig stap ’n priester ’n rukkie later daar verby. Maar toe hy die halfdooie man daar sien lê, het hy aan die ander kant van die pad verbygestap en gemaak of hy hom glad nie sien nie.

32. “Die priester was skaars weg of daar stap ’n Leviet verby, iemand wat in die tempel diens gedoen het. Maar hy het ook gemaak of hy nie die gewonde man raaksien nie en het verder gestap.

33. “Toe kom daar ’n Samaritaan verby. En, soos jy weet, is die Samaritane en die Israeliete nie vriende nie. Maar hierdie Samaritaan het gaan stilstaan om te kyk wat die beseerde man makeer. Toe hy sien hoe die arme man lyk, het hy hom baie jammer gekry.

34. Hy het dadelik die medisyne uitgehaal wat hy by hom in sy tas gehad het en die man se wonde skoongemaak. Hy het hom toe verbind en versigtig op sy donkie getel. Die Samaritaan is toe na die naaste herberg toe. Daar het hy die man in die bed gaan sit en hom versorg.

35. “Die volgende oggend moes die Samaritaan verder reis. Hy sê toe vir die eienaar van die herberg: ‘Hier is geld om vir daardie siek man se verblyf te betaal. Sorg asseblief goed vir hom. As die geld te min is, sal ek later die res kom betaal. Ek kom binnekort weer hier oorslaap wanneer ek van my reis af terugkeer.’

36. “Sê My, wie van hierdie drie mans was ’n medemens vir daardie arme man wat onder die rowers deurgeloop het? Wat dink jy?” het Jesus toe vir die kenner van die wet gevra.

Lees volledige hoofstuk Lukas 10