Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 8:40-54 Die Boodskap (DB)

40. Maar julle wil My sommer doodmaak omdat Ek eerlik is en vir julle die waarheid vertel. En dit is nogal die waarheid wat Ek by God self gehoor het. Abraham sou nooit soos julle gemaak het nie.

41. “Maar julle tree presies op soos julle regte pa sou optree,” sê Jesus.Hulle snap toe waarop Jesus eintlik sinspeel: “Ons is g’n buite-egtelike kinders nie! Ons het net een Vader en dit is God self.”

42. Daarop antwoord Jesus toe: “As God julle Vader was, sou julle lojaal teenoor My wees en My liefhê. Kyk, hier staan Ek voor julle: Ek kom van daardie selfde God af. En Ek het nie sommer op my eie hier aangestap gekom nie. Nee, God self het My gestuur!

43. Laat Ek vir julle sê waarom die dinge wat Ek sê nie vir julle sin maak nie. Julle is soos dowe mense. Nie ’n woord sink by julle in nie, want julle wil nie behoorlik luister na wat Ek sê nie. En daar is ’n goeie rede voor.

44. Die duiwel is julle pa! Al wat julle wil doen, is om na julle pa te luister. Wat hy sê, doen julle. Die duiwel stel net daarin belang om mense se lewe te vernietig en hulle dood te maak. Hy was nog altyd so. Hy gee ook niks om vir die waarheid nie. Al waarin hy belangstel, is om te lieg en te bedrieg. Dit is hoe hy is. As hy sy mond oopmaak, lieg hy. ’n Mens kan niks glo wat hy sê nie. Ja-nee, hy is die oorsaak van al die bedrog en leuens in hierdie wêreld.

45. Maar kyk nou wat gebeur met My. Ek kom praat die waarheid met julle, maar julle sê Ek lieg. Dit wys julle net!

46. Ek daag julle uit! Bewys dat Ek een voet verkeerd gesit het, ja, dat Ek iets gedoen het waarvan God nie sal hou nie. Toe, kan julle? Nou goed, as Ek dan die waarheid praat, waarom wil julle nie aanvaar wat Ek sê nie?

47. Ek kan maar net aan een rede dink: ’n kind van God sal mos graag na God luister. Julle wil nie na My luister nie, wat maar net kan beteken dat julle nie kinders van God is nie.”

48. Daarvan het die Jode niks gehou nie. “Dit bewys net weer hoe reg ons nog altyd oor jou was. Jy is van jou sinne beroof en nog dom ook!”

49. “Ek is allesbehalwe van my sinne beroof,” sê Jesus. “Dit is ’n kwessie van wie vir jou belangrik is. Vir My is my Vader belangrik en Ek steek dit nie weg nie. Maar al wat julle kan doen, is om My te beledig. Dit ontstel My egter nie.

50. Dit is nie Ek wat graag in die kalklig wil staan nie. Dit is God wat wil hê dat mense moet dink Ek is belangrik. En Hy is die Een wat besluit wat reg of verkeerd is.

51. Nou wil Ek regtig vir julle iets belangriks sê: as iemand dit wat Ek sê so ernstig opneem dat dit die enigste manier word waarop hy dink en optree, sal hy nooit, maar nooit, geestelik doodgaan nie.”

52. Die Jode het nie op hulle laat wag nie. “Nou wonder ons nie meer of jy van jou sinne beroof is nie, ons weet dit! Jy raak sommer goed kwyt soos dat die een wat jou woorde ernstig opneem, nooit geestelik sal doodgaan nie. Weet jy dan nie dat Abraham gesterf het nie? En weet jy nie dat God se boodskappers van ouds almal dood is nie? Wil jy nou probeer sê dat hulle nie God se boodskap geken het nie? Wat ’n vermetelheid!

53. Dink jy miskien jy is belangriker as ons vader Abraham of as die boodskappers van God? Hulle het gesterf, maar jy sal kamma nie sterf nie! Wie dink jy nou eintlik is jy?”

54. “Kyk, Ek probeer nie voorgee dat Ek belangriker is as wat Ek regtig is nie. Dit sou niks help nie,” sê Jesus. “Dit is my Vader wat wil hê dat julle moet sien hoe belangrik Ek regtig is. En weet julle wie is my Vader? Dit is niemand anders as die Een wat julle julle God noem nie.

Lees volledige hoofstuk Johannes 8