Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 7:29-38 Die Boodskap (DB)

29. maar Ek was by Hom en kom van Hom af. Daarom ken Ek Hom. Dit is juis Hy wat My na julle toe gestuur het.”

30. Nou was die Jode eers vasberade om Jesus agter tralies te sien. Niemand het egter ’n vinger verroer nie. Volgens God se plan was die tyd daarvoor nog nie ryp nie.

31. Nie almal wou egter vir Jesus in die tronk gooi nie. Daar was baie mense wat in Hom geglo het. Vas oortuig het hulle gesê: “Kyk net watter wonderlike dinge het Hy al gedoen. Wat meer wil julle hê voordat julle oortuig sal wees dat Hy die Messias is?”

32. Al het die mense dit probeer stil hou, het die Fariseërs dit tog te hore gekom. Dit het hulle laat besluit om nou iets aan die saak te doen. Hulle het die invloedryke priesters daarvan gaan vertel en toe die polisie gestuur om Jesus te gaan vang.

33. Jesus het gesien wat aangaan. Hy sê toe: “Ek sal nie meer lank hier by julle wees nie. Dan gaan Ek weer terug na my Vader toe wat My gestuur het.

34. Wanneer Ek teruggaan, sal dit ook nie help dat julle My soek nie. Julle sal My nie kry nie, al soek julle hoe hard. En weet julle hoekom nie? Waar Ek dan sal wees, sal julle nie kan kom nie.”

35. Die Jode bespiegel toe onder mekaar hieroor: “Waarheen sou hy kon gaan dat ons hom nie sal kan kry nie? Is hy tog nie van plan om land uit te vlug en vir die klomp ongelowiges daar te gaan preek nie?” het hulle gewonder.

36. Ja-nee, Jesus se woorde dat Hy na ’n plek toe gaan waar hulle Hom nie sal kan uitsnuffel nie, het die Jode aan die raai gehou.

37. Die laaste dag van die fees was die hoogtepunt en almal was daar. Jesus sê toe hard en duidelik: “As jy geestelik dors is, kom na My toe. Ek sal jou dors les. Glo in My en in wat Ek sê.

38. “Dan sal jy soos ’n fontein word waaruit daar vars water borrel, om ’n voorbeeld uit die Skrif te gebruik. Dit sal nie gewone water wees nie, maar ‘water’ wat ’n mens vir ewig sal laat leef.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 7