Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 7:23-29 Die Boodskap (DB)

23. Nou wil Ek julle ’n vraag vra: julle sê dit is reg om op die sabbat iemand te besny. Moses het mos gesê julle moet dit doen. Sekere dinge ís dan mos belangriker as die sabbat. As dit so is, waarom raak julle dan so opgewonde as Ek nie net ’n deel van ’n mens nie, maar die hele mens op die sabbat gesond maak?

24. Dink eers goed na voordat julle sommer sê iemand is verkeerd. Dan sal julle oordeel miskien meer in die kol wees.”

25. Vir party van die mense in Jerusalem was hierdie gesprek nogal snaaks. “Is dit nie dieselfde man van wie die leiers so graag ontslae wou raak nie?

26. Kyk nou net, hier staan hy tussen hulle en praat. En wat doen die leiers? Hulle staan soos lammetjies daar en maak nie ’n geluid nie. Ons wonder maar net: Besef hulle nie dalk dat hy regtig die Christus is nie?

27. “Dit sal snaaks wees, want ons weet mos waar hierdie man grootgeword het en wie sy familie is. Met die Christus sal dit mos anders wees. Niemand sal weet waar Hy grootgeword of wie Hom grootgemaak het nie.”

28. Jesus sê toe hard, sodat almal dit kan hoor: “Julle praat maklik, asof julle so seker is wie Ek is en waar Ek vandaan kom. Eintlik het julle geen idee nie! Ek het nie bloot uit My eie hier aangestap gekom nie. Die ware God self het My hierheen gestuur! Hom ken julle nie,

29. maar Ek was by Hom en kom van Hom af. Daarom ken Ek Hom. Dit is juis Hy wat My na julle toe gestuur het.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 7