Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 10:28-40 Die Boodskap (DB)

28. Vir hulle gee Ek die lewe wat nooit sal ophou nie. So sal hulle vir altyd saam met God wees. Hulle hoef nooit vir die hel bang te wees nie. Ek sal hulle versorg en beskerm. Niemand sal hulle uit my versorgende hand kan ruk nie. Daarvoor sal Ek self sorg.

29. Hierdie skape het my Vader self vir My gegee. Hulle is die belangrikste van almal. My Vader self sal ook na hulle kyk. En God sal nie toelaat dat enigiemand hulle uit sy versorgende hand kom ruk nie.

30. “Ek en die Vader dink en doen dieselfde dinge. Ja, Ons is een.”

31. Die Joodse leiers het niks daarvan gehou nie. Hulle wou Jesus sommer daar en dan met klippe doodgooi.

32. Jesus was egter te vinnig vir hulle. “Wag ’n bietjie,” sê Hy. “Ek het baie mense gehelp en goeie dinge gedoen. My Vader wou hê Ek moes dit doen. Watter een van die dinge wat Ek gedoen het, het julle so kwaad gemaak dat julle My nou met klippe wil doodgooi? Sê My.”

33. Die Jode het nie op hulle laat wag nie. “Moenie woorde in ons mond lê nie! Dit gaan nie daaroor dat jy mense gehelp het nie. Wat ons briesend maak, is dat jy God beledig. Jy, wat ’n gewone mens is, stel jouself sommer as God aan. Waar het jy dít nou al gehoor?”

34. “Sê julle Skrif nie iewers: ‘Ek, God, het gesê: Julle is gode’ nie?” vra Jesus toe.

35. “God self noem die mense ‘gode’ wat na sy boodskap geluister het. En die Bybel jok mos nie.

36. Nou goed, as dit so is, waarom gaan julle so te kere asof Ek God so beledig? Immers, die Vader self het My spesiaal toegerus en My na die mense in die wêreld toe gestuur. Hier het Ek net kom sê: ‘Ek is God se Seun,’ en julle sê sommer Ek beledig God.

37. Wel, as dit wat Ek doen God ongelukkig maak, ja, nie is wat Hy graag wil hê nie, dan kan julle dit sê. Maar julle weet dit is nie so nie.

38. As julle dink dat wat Ek sê nie waar is nie, kyk dan na wat Ek doen. Julle sal agterkom dat Ek presies doen wat God in so ’n situasie sou doen. Ons tree soos ’n onverbeterlike span saam op.”

39. Die Joodse leiers sit toe weer aan die polisie om Jesus te vang. Voor hulle hulle egter kom kry, was Jesus al weer weg.

40. Die mense het Hom opgespoor by die plek waar Johannes begin doop het (oos van die Jordaan). Hy is ’n rukkie lank soontoe.

Lees volledige hoofstuk Johannes 10