Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 10:16-30 Die Boodskap (DB)

16. Die mense wat julle hier sien, is nie die enigstes wat My volg nie. Daar is baie ander ook, wat van ander plekke af kom. Ek sal ook vir hulle die beste herder wees waarvan hulle kan droom. Uiteindelik sal my volgelinge soos een groot skaaptrop wees met My as hulle enigste herder.

17. My Vader het My lief, en met goeie rede ook. Ek is uit vrye wil bereid om doodgemaak te word. Die doel daarmee is om te wys dat Ek self weer uit die dood kan opstaan.

18. Niemand sal My sommer kan kom doodmaak nie. Uit my eie sal Ek hulle toelaat om dit te doen. So sal Ek bewys hoe sterk Ek is. Ek kan, as Ek wil, sterf. En Ek kan, as Ek wil, ook weer lewendig word. My Vader het gesê dat Ek dit moet kom doen. Ek moet eers toelaat dat mense My doodmaak en dan moet Ek weer lewendig word.”

19. Hieroor het die Jode kwaai aan die stry gegaan.

20. “Hy het die spoor heeltemal byster geraak. Vir wat mors julle nog julle tyd om na hom te luister?” het party kopskuddend gesê.

21. “Nee, julle maak ’n groot fout,” kom dit weer van ’n ander. “Iemand wat die spoor byster geraak het, kan nie só praat nie. En buitendien, het julle al van ’n versteurde man gehoor wat iemand wat sy hele lewe blind was, kon laat sien? Toe, wat sê julle nou?”

22. Dit was weer tyd vir die fees waarin daar teruggedink is aan die tyd toe die tempel ingewy is. Elke jaar in die winter het die Jode met ’n groot fees teruggedink aan die inwyding van hulle tempel.

23. Jesus het juis toe deur die Salomosaal in die tempel gestap.

24. Die Jode het om Hom saamgedrom. “Moet ons asseblief nie langer so aan die raai hou nie. Toe, sê vir ons, is jy die Een vir wie God gestuur het om ons te red? Praat reguit met ons!”

25. Jesus sê toe: “Maar dit is wat Ek nog die hele tyd vir julle sê. Dit is julle wat nie wil glo wat julle hoor nie. En dis nie al nie. Kyk wat doen Ek alles. Dit moet seker ook iets vir julle sê. Julle moet tog daaruit kan agterkom dat God deur My werk.

26. Maar niks wat Ek doen of sê, maak enige indruk op julle nie. En laat Ek vir julle sê hoekom nie. Ek gaan weer die voorbeeld van die herder en die skape gebruik. Julle is nie van my skape nie.

27. My skape sal my boodskap herken. Ek ken hulle en hulle volg My.

28. Vir hulle gee Ek die lewe wat nooit sal ophou nie. So sal hulle vir altyd saam met God wees. Hulle hoef nooit vir die hel bang te wees nie. Ek sal hulle versorg en beskerm. Niemand sal hulle uit my versorgende hand kan ruk nie. Daarvoor sal Ek self sorg.

29. Hierdie skape het my Vader self vir My gegee. Hulle is die belangrikste van almal. My Vader self sal ook na hulle kyk. En God sal nie toelaat dat enigiemand hulle uit sy versorgende hand kom ruk nie.

30. “Ek en die Vader dink en doen dieselfde dinge. Ja, Ons is een.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 10