Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 1:27-40 Die Boodskap (DB)

27. Nee, Hy gaan eers ná my op die toneel verskyn. Maar Hy is so belangrik in vergelyking met my dat ek nie eens soos ’n slaaf werd is om sy skoenrieme los te maak nie.”

28. Die mense het in Betanië, oorkant die Jordaan, met Johannes gaan praat omdat hy die mense daar gedoop het.

29. Die volgende dag het dit toe gebeur. Jesus het na Johannes toe gekom. “Kyk mooi! Daar is die Offerlam van God!” het Johannes uitgeroep. “Hy gaan die mag van die sonde in die wêreld finaal breek.

30. Dit is van Hom wat ek gepraat het. Ek het mos gesê dat daar Iemand ná my gaan kom, maar dat Hy baie belangriker is as ek. Immers, voor ek nog gebore was, was Hy al daar. Julle het gevra hoekom ek doop.

31. Wel, ek self het nie eens mooi geweet wie Hy presies is nie. Daarom doop ek met water, want so sal God se mense Hom kan herken.”

32. Dit is nie al wat Johannes te sê gehad het nie, maar hy het met oortuiging die volgende vertel: “Die Gees het voor my oë soos ’n duif uit die hemel afgekom en op Jesus neergesak en op Hom gebly.

33. Wel, soos ek gesê het, ek self het nie eens geweet wie hierdie belangrike Persoon sou wees nie. God wat my gestuur het om met water te doop, het egter vir my gesê: ‘Dit is jou teken: die Gees sal voor jou oë neersak op die Een wat mense met die Heilige Gees gaan doop.’

34. Presies so het dit gebeur. Daarom sal ek voor enige hof getuig: hierdie man, ja Hy, is die Seun van God!”

35. Die volgende dag was Johannes weer op sy pos. Twee van sy volgelinge was saam met hom daar.

36. Jesus stap toe daar verby. Johannes het Hom gesien en gesê: “Kyk mooi! Hy is die Offerlam van God!”

37. Die twee volgelinge van Johannes het hom dit hoor sê en is agter Jesus aan.

38. Jesus kyk toe om.“Wie soek julle?” vra Hy vir hulle. “Rabbi, waar bly U?” vra hulle. (Terloops, “rabbi” beteken “onderwyser”.)

39. “Kom saam en kom kyk,” nooi Jesus hulle toe uit. So het dit gekom dat hulle saam is om te gaan kyk waar Hy bly. Dit was egter al laatmiddag en die son het begin water trek, met die gevolg dat die twee kuiergaste toe sommer die nag daar oorgebly het.

40. Een van die twee wat op Johannes se getuienis agter Jesus aan is, was Andreas.

Lees volledige hoofstuk Johannes 1