hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 4 Die Boodskap (DB)

Leef vir die Here

1. Vir wat stry en baklei julle so? Wat is verkeerd? Is dit nie omdat elkeen altyd net aan homself dink nie? Kom dit nie van daardie gevoel dat net wat vir jou lekker of belangrik is, saak maak nie? Dit is maar hoe ons as mense is.

2. Julle wil gedurig allerhande dinge hê. As julle dit nie kry nie, is die duiwel los. Dan wil julle sommer moord pleeg. Julle gaan omtrent dood van jaloesie omdat iemand anders dit het. Op dié manier kan julle dit natuurlik nie kry nie. Om te baklei en mekaar te wil vernietig gaan julle niks in die sak bring nie. Julle het nie al daardie dinge nie, omdat julle dit op die verkeerde manier wil kry.

3. Hoekom vra julle nie ’n slag opreg vir God nie? Julle sê dalk: “Ja, ons bid tog, maar God gee nie vir ons wat ons vra nie.” Daar is ’n goeie rede voor: julle motiewe is verkeerd. Julle vra die goed van God sodat julle dit soos stout kinders net vir julleself kan hê. Dit gaan net om julleself en om niemand anders nie.

4. So draai julle die rug vir God en vry na die sonde. Besef julle nie dat om gedurig die verkeerde dinge te doen wat so eie aan ons as mense is, beteken om teen God te draai en sy vyand te word nie? Julle het ’n keuse. Julle kan kies om soos die mense te leef wat God nie ken nie, maar dan kies julle ook om God se vyand te word.

5. Dink julle miskien die Skrif is sommer vir spek en boontjies geskryf? Natuurlik nie. Luister dan na wat daar staan: God wil ons lewe, wat Hy vir ons gegee het, heeltemal vir Homself hê.

6. God gee ook vir ons baie meer as wat ons nodig het om so te leef, sonder dat ons dit verdien.Ek verwys weer na wat die Skrif sê: “God wil niks met die mense te doen hê wat dink hulle kan op hulle eie sonder God regkom nie. Maar vir daardie mense wat weet hulle is niks sonder God nie, is God baie, baie goed - meer as wat hulle ooit verdien.”

Wees gehoorsaam aan God

7. Wees gehoorsaam aan God en net aan Hom. Verklaar die duiwel vyand nommer een in jou lewe en gee hom nie ’n enkele kans nie. Hy sal dan van jou af padgee omdat hy niks kan regkry nie. Julle moet God se hand al hoe stywer vashou; dan sal Hy júlle hand ook al hoe stywer vashou. As julle verkeerde dinge doen, hou op daarmee. Hou op om aan die een kant God te wil dien en aan die ander kant nog met julle sondes aan te gaan.

8. Gee net vir God plek in julle lewe. Wees hartseer oor alles wat julle verkeerd gedoen het. Moenie dink julle verkeerde lewe is sommer niks nie.

9. Dit is iets waaroor julle baie sleg moet voel. Julle behoort daaroor te huil. Vee die glimlag van selftevredenheid van julle gesig af en wys hoe jammer julle oor julle sondes is. In plaas van die lag van vrolikheid moet daar die traan van skuld en rou wees.

10. Buig baie laag voor die Here. Sê dat jy jou hele lewe net vir Hom wil leef. God sal jou optel, daar waar jy in oorgawe voor Hom buig, en jou op ’n ereplek regop, kop omhoog, langs Hom laat staan.

11. Liewe broers en susters, moenie lelik praat van mekaar nie. Iemand wat oor sy mede-Christen skinder of sê hy is sleg, maak eintlik God se wil sleg en praat teen die wet van God. As jy sê God se wil is sleg, doen jy mos nie wat God wil hê nie. Dan hou jy jou belangriker as sy wet.

12. Daar is net een Persoon wat belangriker is as die wet en dit is die Een wat die wet gemaak het. Hy alleen kan besluit wie vrygespreek word en wie veroordeel word. Wie is jy nou miskien om te maak of jy kan oordeel of iets kan sê oor jou medemens?

Die Here besluit wat gebeur, nie jy nie

13. Kom nou; luister ’n bietjie na julleself. Julle sê: “Ons gaan sommer nou of miskien môre na daardie stad toe. Daar gaan ons ’n jaar bly. Ons gaan lekker besigheid doen en sakke vol geld maak.”

14. Sê my, weet jy presies wat môre gaan gebeur? Kan jy dit regtig sê? Dink maar aan die lewe. Dit is so onseker en kortstondig. Dit is soos weerlig wat slaan. Die een oomblik is dit helder daar, maar die volgende oomblik is dit weg.

15. Erken liewer dat die Here julle hele lewe beheer. Sê liewer: “As ons môre nog leef, sal ons dit of dat doen. Maar dit hang eintlik alles maar van die Here af.”

16. Julle praat egter so groot asof alles net van julle alleen afhang. Dit is verkeerd, hoor! Die Here hou nie daarvan nie.

17. As julle dan weet wat reg is om te doen en julle steur julle nie daaraan nie, leef julle nie soos die Here dit wil hê nie.