Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 1:5-10 Die Boodskap (DB)

5. As julle egter in ’n situasie kom waar julle twyfel oor wat die regte ding is om te doen, gaan vra vir God. Hy sal nie snaaks van julle dink of julle verwyt omdat julle onseker is hoe om vir Hom te leef nie. Hy sal julle eerder help met alles wat julle nodig het. Gaan vra; Hy sal gee.

6. Maar een ding moet julle dan nie doen nie. Moenie twyfel dat God julle regtig sal help nie. Verwag en weet vir seker dat Hy sal help. Mense wat twyfel of God regtig na hulle sal luister, is soos golwe op die see. Die wind waai daardie golf heen en weer. Die een oomblik sien jy dit en die volgende oomblik is dit weg.

7-8. Dit is ’n goeie voorbeeld van iets wat g’n koers of sekerheid het nie. Dié voorbeeld pas by iemand wat gedurig twyfel of die Here hom regtig gaan help. Vir so iemand sal die Here nie veel beteken nie, want nes hy gebid het dat die Here hom moet help, swaai hy om en sê dat dit nie kan of sal gebeur nie. En wat help dit?

9. God werk anders as ons met mense. Vir Hom is daardie arm man of vrou wat in nederige omstandighede bly, baie belangrik. Vir julle met wie dit so gaan, moet dit baie moed gee. Die rykes in die groot huise moet weet dat die status wat geld gee, nie by God tel nie.

10. Sulke mense moet liewer laag by God se voete gaan sit met die besef van hoe klein hulle eintlik voor God is. En weet julle hoekom? Laat ek ’n voorbeeld gebruik. Rykdom of status hou nie lank nie, net soos ’n wilde blommetjie in die veld. In die oggend lyk die blommetjie te pragtig.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 1