Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 1:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Van Jakobus. Iemand wat God en die Here Jesus Christus dien met alles wat hy het. Almal wat oor hierdie wêreld versprei is en aan God behoort, moet die brief lees. Dit is vir julle bedoel.

2. My liewe mede-Christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word. Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees.

3. Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef.

4. Julle moet die Here toelaat om julle deur hierdie dinge te leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou, kom wat wil. So sal julle geestelike grootmense word wat weet hoe om in elke situasie reg op te tree.

5. As julle egter in ’n situasie kom waar julle twyfel oor wat die regte ding is om te doen, gaan vra vir God. Hy sal nie snaaks van julle dink of julle verwyt omdat julle onseker is hoe om vir Hom te leef nie. Hy sal julle eerder help met alles wat julle nodig het. Gaan vra; Hy sal gee.

6. Maar een ding moet julle dan nie doen nie. Moenie twyfel dat God julle regtig sal help nie. Verwag en weet vir seker dat Hy sal help. Mense wat twyfel of God regtig na hulle sal luister, is soos golwe op die see. Die wind waai daardie golf heen en weer. Die een oomblik sien jy dit en die volgende oomblik is dit weg.

7-8. Dit is ’n goeie voorbeeld van iets wat g’n koers of sekerheid het nie. Dié voorbeeld pas by iemand wat gedurig twyfel of die Here hom regtig gaan help. Vir so iemand sal die Here nie veel beteken nie, want nes hy gebid het dat die Here hom moet help, swaai hy om en sê dat dit nie kan of sal gebeur nie. En wat help dit?

9. God werk anders as ons met mense. Vir Hom is daardie arm man of vrou wat in nederige omstandighede bly, baie belangrik. Vir julle met wie dit so gaan, moet dit baie moed gee. Die rykes in die groot huise moet weet dat die status wat geld gee, nie by God tel nie.

10. Sulke mense moet liewer laag by God se voete gaan sit met die besef van hoe klein hulle eintlik voor God is. En weet julle hoekom? Laat ek ’n voorbeeld gebruik. Rykdom of status hou nie lank nie, net soos ’n wilde blommetjie in die veld. In die oggend lyk die blommetjie te pragtig.

11. Maar dan begin die son bak. Teen die middag hang daardie mooi blommetjie verlep en teen die aand is daar niks van hom oor nie. Die blaartjies lê saam met die mooiheid van die blommetjie verskroei op die grond. So is die pad van rykdom. Die ryk man sal tussen al sy status en geld ook maar soos die blommetjie verlep en sterf. En wat help dit alles hom dan?

Lees volledige hoofstuk Jakobus 1