Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 9:15-25 Die Boodskap (DB)

15. Hy is die Een wat die nuwe ooreenkoms tussen God en sy mense kom maak het. Nou kan almal vir wie God na Hom toe geroep het, alles by Hom kry wat Hy belowe het, want hulle is nou sy kinders. Daarvoor het Jesus self gesorg. Hy het alles gegee wat God gevra het om die verkeerde dinge te vergewe wat die mense gedoen het. Dit geld selfs vir die mense onder die ou ooreenkoms.

16-17. Dit gaan net soos met ’n testament. Die een wat die testament gemaak het, moet eers doodgaan voor die testament in werking kom. Solank hy nog leef, geld die testament nog nie. Die ooreenkoms wat God met sy mense gemaak het, werk soos ’n testament.

18. Toe God die eerste ooreenkoms met die mense gemaak het, het daar bloed geloop.

19. Julle onthou mos dat Moses eers elke reël wat in die wet gemaak is, vir die volk voorgelees het. Toe vat hy wol wat rooi gekleur is en takkies van ’n hisopplant en sprinkel daarmee die bloed van kalwers en bokke saam met water oor die boek waarin die reëls staan en oor al die mense.

20. Hy sê toe: “God het met julle ’n ooreenkoms gemaak en julle moet daarby bly. Dié bloed is die bewys van die ooreenkoms.”

21. Toe het Moses die bloed gaan sprinkel op die Heilige plek en alles wat daarin vir die diens van God gebruik is.

22. Die wet bepaal tog dat omtrent alles so met bloed besprinkel moes word om aanvaarbaar te wees vir God. God vergewe nie sondes as daar nie bloed geloop het nie.

23. Die aardse Heilige plek en alles daarin is maar soos ’n skaduwee van die hemelse Heilige plek. As die aardse plek so met bloed vir God aanvaarbaar gemaak is, was daar vir die hemelse Heilige plek ’n baie beter offer nodig.

24. Christus is nie sommer in ’n heilige plek in wat deur mense gemaak is en net soos ’n skaduwee van die regte een is nie. Nee, Hy is in die hemel self na God toe om ons saak daar by God namens ons te gaan stel. Die hoëpriester op aarde moes ook natuurlik elke jaar in die Heiligste deel ingaan met die bloed van diere.

25. Christus is egter nie weer en weer in die hemel in om Homself elke keer van voor af te offer nie.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 9