Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 12:19-27 Die Boodskap (DB)

19. Die mense het ’n trompet hoor blaas en ’n geweldige stem gehoor. Hulle was so verskrik dat hulle begin smeek het dat die stem tog asseblief moes ophou. Dit was God wat met hulle gepraat het.

20. Wat God vir hulle gesê het, was ondraaglik: “Selfs as ’n dier net aan die berg raak, moet dit doodgegooi word met klippe.”

21. Alles wat daar by die berg gebeur het, was so skrikwekkend dat selfs Moses geskree het: “Ek staan en ruk, so bang is ek.”

22. Maar kyk net by watter berg het julle uitgekom. Julle het gekom by die berg Sion waar die woonplek van die lewende God is, die hemelse Jerusalem. Daar is duisende der duisende hemelwesens wat vrolik bymekaar is en saamsing.

23. Julle het gekom by die kerk van almal vir wie God ’n nuwe lewe gegee het en wie se name in die hemel opgeskryf is. Daar kry julle ook vir God wat uiteindelik as Regter sal besluit wat die lot van elke mens sal wees. By Hom is ook die geeste van mense wat reeds gered en volmaak by Hom is.

24. Jesus is ook daar. Dit is Hy wat vir ons die wonderlike nuwe ooreenkoms met God gemaak het. Daar kom ons ook by Jesus se bloed wat vir ons baie meer gedoen het as die bloed van Abel.

25. Moet onder geen omstandighede julle rug vir God draai wanneer Hy met julle praat nie. Die mense wat nie na Hom wou luister toe Hy met hulle hier op aarde deur Moses gepraat het nie, het lelik in die stof gebyt. As ons ons dan nie meer steur aan God wat uit die hemel met ons praat nie, sal dit nog slegter met ons gaan.

26. Destyds het sy stem die aarde laat bewe, maar nou beloof Hy: “Ek sal nog ’n keer praat, en hierdie keer sal nie net die aarde bewe nie, maar ook die hemel.”

27. Met die woorde “nog ’n keer” bedoel Hy dat alles op aarde uitmekaargeskud gaan word. Net dié dinge sal oorbly wat vir altyd daar sal wees.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 12