Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 8:14-29 Die Boodskap (DB)

14. Die apostels in Jerusalem het intussen gehoor dat God besig was om mense oral in Samaria met sy goedheid aan te raak. Hulle het vir Petrus en Johannes soontoe gestuur.

15. Hulle twee moes gaan bid dat hierdie mense ook die krag van die

16. Heilige Gees in hulle lewe ontvang, want op daardie tydstip was hulle nog nie met sy krag vervul nie. Hulle was nog net in die Naam van die Here Jesus gedoop.

17. Toe die apostels daar aankom, het hulle hulle hande op die mense geplaas en vir hulle gebid. Dadelik het die krag van die Gees toe oor hulle almal gekom.

18. Simon het gestaan en kyk toe die apostels hulle hande op die mense geplaas het en hulle met die Heilige Gees se krag vervul is.

19. Dadelik het hy hulle ’n klomp geld aangebied en vir hulle gesê: “Vertel my wat julle geheim is. Vat die geld en gee my asseblief ook van julle krag sodat elkeen op wie ek my hande sit, ook die Heilige Gees kan ontvang.”

20. Petrus het hom skerp geantwoord: “Gaan na die verderf toe met jou geld en al! Dink jy regtig dat jy God se hemelse Geskenk met geld kan koop? Die Heilige Gees is nie te koop nie. Wat soek jy hier? Jy hoort nie hier tussen ons nie. Jou binnekant is een groot stuk sonde. God weet dit baie goed.

21. Daarom moet jy jou lewe radikaal verander. Laat staan dadelik al jou goddelose dade.

22. Vra God om jou te vergewe omdat jy gedink het jy kan geld maak uit die werk van die Heilige Gees. Ek kom agter dat dit ’n ou streek van jou is.

23. Jy probeer heeltyd om ander mense te misbruik. Jou lewe is pikdonker. Ja, dit is galbitter van al die sonde.”

24. Dit het Simon benoud laat uitroep: “Bid asseblief vir my. Vra tog dat die Here niks van hierdie dinge met my sal laat gebeur nie.”

25. Nadat die apostels die Here se woord met groot krag aan die mense bekendgemaak het, het hulle teruggekeer na Jerusalem. Onderweg daarheen het hulle by baie dorpies in Samaria aangedoen en ook daar vir almal die goeie nuus oor Jesus vertel.

26. ’n Rukkie later het ’n engel van die Here na Filippus gekom en vir hom gesê: “Jy moet dadelik vertrek. Vat daardie verlate pad vanaf Jerusalem na Gasa toe. Begin stap in ’n suidelike rigting.”

27. Filippus het dit gedoen. Langs die pad het hy op ’n Etiopiër afgekom. Dit was ’n ontmande amptenaar wat in diens van koningin Kandake van Etiopië was. Hy was haar minister van finansies. Hierdie man was pas in Jerusalem om God te gaan aanbid. Nou was hy weer op pad terug na sy eie land toe.

28. Filippus het van ver af gesien hoe hy op sy wa sit en lees. Hy was besig om hardop uit die profeet Jesaja te lees.

29. Die Heilige Gees sê toe vir Filippus: “Gaan na daardie man toe. Klim by hom op sy wa.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 8