Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 22:2-13 Die Boodskap (DB)

2. Die mense was verbaas toe hulle agterkom dat Paulus Hebreeus praat. ’n Mens kon ’n speld hoor val. Almal het doodstil na hom geluister.

3. “Ek is ook ’n Jood. Ek is in Tarsus in Silisië gebore. Ek het my opleiding in die wet van Moses hier in Jerusalem ontvang. My leermeester was rabbi Gamaliël. Ek is streng volgens al die tradisies en gebruike van ons voorouers grootgemaak. Van jongs af wou ek net doen wat God van my vra. Julle verstaan mos wat ek sê. Julle wil mos ook net doen wat God van julle vra?

4. “Toe ek op ’n dag te hore kom van hierdie nuwe spul mense wat in Jesus glo, was ek so kwaad dat ek hulle wreed begin vervolg het. Ek het die mans en vroue wat al hierdie dinge oor Hom geglo het, laat vang en in die tronk gestop.

5. Vra maar vir die hoëpriester en al die leiers van ons volk as julle my nie glo nie. Hulle weet baie goed dat ek die waarheid praat. Immers, dit is hulle wat my skriftelike toestemming gegee het om Damaskus toe te gaan om die Christene daar te vang. My plan was om hulle dan hierheen terug te bring sodat hulle hier in Jerusalem verhoor kon word.”

6. “Toe ek naby Damaskus kom, het ’n helder lig uit die hemel in die middel van die dag skielik op my begin skyn.

7. Ek het so groot geskrik dat ek op die grond neergeval het. Ek hoor toe Iemand vir my sê: ‘Saul, Saul, hoekom is jy besig om My te vervolg?’

8. “‘Wie is U, Here?’ het ek dadelik gevra. ‘Dit is Ek, Jesus van Nasaret! Jy is besig om My te vervolg.’

9. “Die mense wat saam met my op pad na Damaskus was, het ook die lig uit die hemel gesien. Hulle het baie bang geword. Hulle kon egter nie Jesus se stem hoor nie.

10. “Ek vra toe benoud vir Jesus: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Hy sê toe: ‘Staan dadelik op en gaan Damaskus toe. Binnekort sal iemand daar vir jou kom sê wat jy moet doen.’

11. “Die skerp lig het gemaak dat ek glad nie kon sien toe ek opstaan nie. Die ander mense moes my die stad inlei.

12. “Daar in Damaskus het ’n godsdienstige man gebly wat alles gedoen het wat in die wet van die Here geskryf staan. Sy naam is Ananias. Al die Jode in die stad het net goeie dinge oor hom gesê.

13. Hy het na my toe gekom, sy arm om my geslaan en gesê: ‘Saulus, my broer, jy sal van nou af weer kan sien.’ Op daardie oomblik het my oë oopgegaan. Ek kon Ananias duidelik voor my sien staan.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 22