Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 19:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Apollos het ook in Korinte vir die mense van Jesus vertel. Terwyl hy daarmee besig was, het Paulus intussen deur ’n aantal ander gebiede gereis. Toe Paulus in Efese aankom, het hy sowat twaalf volgelinge van Jesus daar raakgeloop. Hy vra toe vir hulle:

2. “Het julle ook die Gees se krag in julle lewens ontvang toe julle tot bekering gekom het?”

3. “Wie is dit? Ons het nog nooit eens van Hom gehoor nie,” vra hulle verbaas.“Hoe is julle dan gedoop? In wie se naam het dit gebeur?” vra Paulus verbaas.“Met die doop van Johannes die Doper,” antwoord hulle.

4. “Johannes het mense gedoop wat bereid was om op te hou met hulle sonde,” sê Paulus toe. “Johannes het ook vir elkeen wat hy gedoop het, gesê dat hulle moes glo in die Een wat na hom op die toneel sou verskyn. Daardie Een is Jesus. Daarom geld Johannes se doop nou nie meer nie.”

5. Toe die gelowiges hoor wat Paulus sê, was hulle vuur en vlam om in die Naam van die Here Jesus gedoop te word. Paulus het dit toe ook gedoen. Nadat hy hulle gedoop het, het hy sy hande op hulle gesit terwyl hy vir hulle bid.

6-7. Dadelik het die groot krag van die Heilige Gees in hulle begin werk. Hulle het ook in ander tale gepraat. Boonop het hulle nou ook oor die vermoë beskik om te profeteer en God se wil bekend te maak. Hulle was omtrent twaalf persone.

8. Paulus het daarna by die sinagoge in Efese gaan besoek aflê. Hy het die volgende drie maande gereeld soontoe gegaan. Keer op keer het hy met die mense gaan redeneer. Hy het hard probeer om hulle te oortuig dat hulle slegs in God se nuwe wêreld kon kom as hulle in Jesus glo. Maar baie van hulle het volstrek geweier om in Jesus te glo. Later het hulle met Paulus begin spot en lelike dinge oor Jesus daar voor almal kwytgeraak. Paulus was baie ontevrede.

9. Paulus het hulle verlaat en ’n skoolgebou by ’n man met die naam Tirannus bekom. Daar het hy elke dag saam met die gelowiges bymekaargekom en vir hulle van Jesus vertel.

10. Die volgende twee jaar het Paulus die skool gebruik om die mense te leer waaroor die evangelie presies gaan. Later het omtrent almal in Asië, Jode en Grieke inkluis, geweet wie die Here Jesus is.

11. God het Paulus ook in staat gestel om groot wonderwerke te doen. Paulus het oor soveel krag beskik dat siekes slegs van sy klere op hulle kon neersit, dan het hulle op die plek gesond geword.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 19