Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 18:4-12 Die Boodskap (DB)

4. Paulus het elke sabbat na die sinagoge gegaan. Daar het hy met die Jode, en ook met ’n klompie Grieke wat die Joodse geloof aanvaar het, oor Jesus gaan praat. Party van hulle het toe tot bekering gekom.

5. Intussen het Silas en Timoteus uit Masedonië na Korinte gekom. Hulle het Paulus raak- geloop waar hy hard besig was om die Jode te probeer oortuig dat Jesus die Messias is. Die meeste van hulle het Paulus se boodskap verwerp.

6. Teleurgesteld het hy toe opgestaan en daar voor almal die stof uit sy klere geskud. “As julle verlore gaan, is dit net julle eie skuld. Julle bloed is nou op julle eie koppe,” het hy bygevoeg. “Ek het gedoen wat God van my verwag. Ek het vir julle die volle waarheid oor Hom vertel. Nou gaan ek na die heidene toe om met hulle oor Jesus te praat.”

7. Met dié woorde het Paulus omgedraai en uit die sinagoge gestap. Daarna het hy gaan preek in Justus se huis daar reg langs die sinagoge. Justus het vroeër al die Joodse godsdiens aanvaar.

8. Die hoof van die sinagoge in Korinte se naam was Krispus. Toe hy hoor wat Paulus oor Jesus sê, het hy tot bekering gekom. Al die mense in sy huis het saam met hom in Jesus begin glo. Baie ander inwoners van die stad het ook gelowig geword toe hulle Paulus hoor preek. Hulle almal is kort daarna gedoop.

9. Een nag het die Here aan Paulus verskyn en vir hom gesê: “Moenie vir die mense bang wees nie. Hou aan om met hulle oor My te praat. Jy mag nooit stilbly oor die goeie nuus nie.

10. Ek is by jou. Niemand hier in Korinte sal dit waag om jou te slaan of jou in die tronk te gooi nie. Hier is baie mense wat in My glo.”

11. Daarna het Paulus nog vir ’n jaar en ses maande in die stad gebly. Hy het elke kans wat hy gekry het, aangegryp om vir die inwoners van God te vertel. Hy het hulle ook geleer om te doen wat God van hulle verwag.

12. In daardie tyd is Gallio aangestel as die nuwe goewerneur van die Romeinse provinsie Agaje. Die Jode in Korinte wat nie in Jesus geglo het nie, het toe op ’n dag besluit om Paulus by hom te gaan aankla.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 18