Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 17:18-25 Die Boodskap (DB)

18. ’n Groep persone wat die filosofiese beskouings van die Epikureërs en die Stoïsyne aangehang het, het met Paulus begin stry. Party van hulle het hom sommer openlik beledig: “Watse nonsens is dit wat hierdie man kwytraak? Hy het nie ’n idee wat hy sê met al die stories wat hy vertel nie!” Ander was egter nuuskierig toe hulle hoor hoe hy oor Jesus en sy opstanding uit die dood praat. “Hier is ’n nuwe godsdiens waarvan ons meer moet hoor,” het hulle vir mekaar gesê.

19. Dié mense het met Paulus gereël om ’n openbare toespraak op die Areopagus te kom hou. “Kom vertel ’n bietjie vir ons van hierdie nuwe godsdiens van jou,” het hulle gesê.

20. “Ons is nuuskierig om meer daaroor te weet. Jy sê sulke snaakse dinge. Waar kom jy daaraan?”

21. Atene was ’n stad vir nuwe dinge. Al wat inwoner en besoeker aan die stad was, wou weet wat die jongste filosofie en godsdiens was; daarom dat die mense so nuuskierig was om te hoor wat Paulus te sê gehad het.

22. Paulus het in die middel van die Areopagus gaan staan en met die mense begin praat.

23. “Geagte mense van Atene, ek kan sien dat julle baie godsdienstig is. Nou die dag toe ek hier aankom, het ek na julle tempels en die beelde van julle gode geloop en kyk. Toe kom ek op ’n altaar af met dié woorde daarop: ‘Aan die God wat niemand ken nie.’

24. “Ek wil nou met julle praat oor hierdie God wat julle dien sonder dat julle Hom behoorlik ken. Dit is Hy wat die hemel en die aarde gemaak het. Hy regeer oor alles in die lug bokant julle en oor alles op die grond. Hy bly nie in die een of ander tempel wat deur mense gebou is nie. Daarvoor is Hy heeltemal te groot en te belangrik. Hy het ook nie nodig dat mense

25. Hom van die oggend tot die aand moet bedien met allerhande offers nie. Die God van wie ek julle vertel, is nie van ons mense afhanklik nie. Hy het alles op die aarde gemaak, ook elkeen van julle. Dit is Hy wat sorg dat ons elke dag asemhaal.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 17