Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:14-23 Die Boodskap (DB)

14. Een van die vroue, Lidia, wat uit die stad Tiatira afkomstig was en wat duur pers materiaal verkoop het, het vroeër al die Joodse geloof aangeneem. Sy het aandagtig gesit en luister na wat Paulus gesê het. Die Here het Lidia aangeraak sodat sy die goeie nuus oor Jesus gelowig aanvaar het.

15. Daarna is sy gedoop, en ook almal wat in haar huis gebly het. Sy het ons toe uitgenooi om by haar te kom oorbly. “As julle regtig oortuig is dat ek nou ook in die Here glo, moet julle eenvoudig in my huis kom oorbly,” het sy gesê. Lidia het ons toe met hierdie woorde oorgehaal om by haar te kom bly.

16. Toe ons op ’n dag weer op pad was na die plek waar ons gebid het, het ons ’n slavin raakgeloop. Sy het ’n bose gees in haar gehad wat haar in staat gestel het om ander se toekoms te voorspel. Haar eienaars het baie geld uit haar gemaak.

17. Toe sy vir Paulus sien, het sy agter hom begin aanloop. Sy het heeltyd uitgeroep: “Hierdie mense dien die allerhoogste God.”

18. Dit het ’n paar dae so aangehou, totdat Paulus hom vererg het. Op ’n dag het hy omgedraai en die gees wat in haar was kwaai aangespreek: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit hierdie meisie uit!” In ’n oogwink het dit gebeur.

19. Toe die eienaars van die slavin agterkom dat sy nie meer in staat was om ander se fortuin te vertel nie en dat al hulle wins daarmee heen was, was hulle woedend. Hulle het op Paulus en Silas afgestorm, hulle gegryp en hulle na die markplein gesleep tot voor die hoofamptenare van die stad.

20. Dié het Paulus en Silas gearresteer en na die hooflanddroste toe gebring. Die klag teen hulle was kort en kragtig: “Hierdie Jode versteur die rus in ons stad.

21. Hulle leringe is in stryd met ons Romeinse wet en tradisie.”

22. Die skare was teen daardie tyd ook al baie omgekrap oor dit wat Paulus en Silas verkondig het. Die hooflanddroste

23. sê toe vir die polisiemanne dat Paulus en Silas se klere daar op die plek van hulle afgeskeur moes word en dat hulle elkeen ’n behoorlike drag slae moes kry. Nadat Paulus en Silas pimpel en pers geslaan is, is hulle in die tronk gegooi.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16