Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 1:12-20 Die Boodskap (DB)

12. Ek het dit glad nie op die een of ander plek gaan leer nie. Nee, op ’n bonatuurlike manier het Jesus Christus die goeie nuus wat ek verkondig aan my bekendgemaak.

13. Voordat ek ’n Christen geword het, was ek ’n groot aanhanger van die Joodse geloof. In daardie tyd het ek die kerk van God wreedaardig vervolg. Ek wou al wat Christen is van die aardbol afvee.

14. Ek het vinnig opgang binne die Joodse godsdienstige kringe gemaak. Kort voor lank was ek ’n modelgodsdienstige wat kop en skouers bo my volksgenote uitgestaan het. Ek was ’n fanatiese aanhanger van die tradisies van my voorouers.

15. God het egter ander planne met my lewe gehad. Trouens, nog voordat ek gebore is, het Hy Hom al oor my ontferm. Tóé al het Hy besluit dat ek aan Hom behoort en dat ek voltyds vir Hom gaan werk.

16. Later het God sy Seun, Jesus Christus, aan my bekendgemaak. Van daardie oomblik af het ek net een doel voor oë gehad: om die goeie nuus oor Christus te verkondig aan mense wat nie aan Israel behoort nie. Ek het glad nie eens by ander Christene gaan raad vra oor wat ek moes sê nie.

17. Ek het ook nie Jerusalem toe gegaan om daar te gaan kers opsteek by diegene wat voor my al apostels was nie. Nee, ek is direk na my bekering Arabië toe. Later het ek teruggegaan Damaskus toe.

18. Eers drie jaar later het ek weer in Jerusalem gekom. Daar het ek vir Petrus ontmoet en vyftien dae by hom oorgebly.

19. In daardie tyd het ek nie een van die ander apostels te sien gekry nie, behalwe vir Jakobus, die broer van die Here.

20. Terloops, al hierdie dinge wat ek vir julle skryf, is die reine waarheid. God self weet dit.

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 1