hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 1 Die Boodskap (DB)

1. Van Paulus.

2. Jesus Christus het my as ’n apostel aangestel, saam met God die Vader wat Hom uit die dood laat opstaan het. My aanstelling as apostel kom nie van mense af nie. Ek en die gelowiges wat hier by my is, groet julle almal daar in die kerke in Galasië.

3. Ons God en Vader en ons Here Jesus Christus se goedheid en vrede is by julle almal.

4. Jesus Christus het sy lewe vir ons opgeoffer sodat ons sondes nie meer soos ’n muur tussen God en ons staan nie. Hy het dit vir ons gedoen om ons uit die kloue van hierdie sondige wêreld te bevry. Op hierdie manier het Jesus ons God en hemelse Vader se raadsplan tot uitvoer gebring.

5. Aan God alleen kom al die eer toe. Nou en vir altyd! Vir seker!

Daar is net een weergawe van die goeie nuus

6. Wat is dit deesdae met julle? Ek kan nie glo dat julle so gou van God af weggedraai het nie. Het julle vergeet dat Hy julle sy kinders gemaak het omdat Christus so ongelooflik goed vir julle was? En wat doen julle toe om vir Hom daarvoor dankie te sê? Julle gaan staan en aanvaar ’n heeltemal ander evangelie. Begryp julle dit nou nog nie? Daar is nie ’n ander evangelie nie!

7. Maar julle leen mos julle ore uit aan ’n klomp mense wat die goeie nuus oor Christus heeltemal verdraai. Dit lyk my hulle het julle kop behoorlik deurmekaar gepraat.

8. Kom ek sê reguit vir julle: as mense ’n ander weergawe van die goeie nuus oor Christus verkondig as dit wat julle by my gehoor het toe ek vroeër daar by julle was, sal God hulle verskriklik straf. Moenie eens na my of na ’n engel uit die hemel luister wat iets anders as dit vir julle kom vertel nie.

9. Kom ek sê dit nog ’n keer sodat julle baie mooi kan hoor: as enigiemand dit sou waag om iets anders oor Christus te sê as wat julle by my gehoor het, wag daar groot probleme op hulle. God se verskriklike vloek sal hulle tref.

10. Dink julle miskien dat ek al dié kwaai dinge sê om julle te probeer beïndruk? Of om God se guns te wen? Probeer ek dalk om in party mense se goeie boekies te kom? Glad nie. As dit my doel in die lewe is om populêr te wees, is ek nie werd om Christus se dienaar genoem te word nie.

Paulus se lewensverhaal in ’n neutedop

11. My broers en susters, verstaan my baie mooi: die goeie nuus oor Jesus Christus wat ek preek, het ek glad nie self uitgedink nie. Dit kom ook nie tweedehands van iemand anders af nie.

12. Ek het dit glad nie op die een of ander plek gaan leer nie. Nee, op ’n bonatuurlike manier het Jesus Christus die goeie nuus wat ek verkondig aan my bekendgemaak.

13. Voordat ek ’n Christen geword het, was ek ’n groot aanhanger van die Joodse geloof. In daardie tyd het ek die kerk van God wreedaardig vervolg. Ek wou al wat Christen is van die aardbol afvee.

14. Ek het vinnig opgang binne die Joodse godsdienstige kringe gemaak. Kort voor lank was ek ’n modelgodsdienstige wat kop en skouers bo my volksgenote uitgestaan het. Ek was ’n fanatiese aanhanger van die tradisies van my voorouers.

15. God het egter ander planne met my lewe gehad. Trouens, nog voordat ek gebore is, het Hy Hom al oor my ontferm. Tóé al het Hy besluit dat ek aan Hom behoort en dat ek voltyds vir Hom gaan werk.

16. Later het God sy Seun, Jesus Christus, aan my bekendgemaak. Van daardie oomblik af het ek net een doel voor oë gehad: om die goeie nuus oor Christus te verkondig aan mense wat nie aan Israel behoort nie. Ek het glad nie eens by ander Christene gaan raad vra oor wat ek moes sê nie.

17. Ek het ook nie Jerusalem toe gegaan om daar te gaan kers opsteek by diegene wat voor my al apostels was nie. Nee, ek is direk na my bekering Arabië toe. Later het ek teruggegaan Damaskus toe.

18. Eers drie jaar later het ek weer in Jerusalem gekom. Daar het ek vir Petrus ontmoet en vyftien dae by hom oorgebly.

19. In daardie tyd het ek nie een van die ander apostels te sien gekry nie, behalwe vir Jakobus, die broer van die Here.

20. Terloops, al hierdie dinge wat ek vir julle skryf, is die reine waarheid. God self weet dit.

21. Ek het toe daar in die streke van Sirië en Silisië begin preek.

22. Op daardie tydstip het Christus se volgelinge in Judea my nog nie persoonlik geken nie.

23. Al wat hulle van my geweet het, was die volgende brokkie nuus: “Daardie man wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die evangelie. Hy praat nou met ander mense oor die geloof wat hy vroeër probeer uitroei het.” Natuurlik was hulle baie bly daaroor.

24. Hulle het vir God dankie gesê dat Hy my nou gebruik om die goeie nuus bekend te maak.