Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 3:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Liewe broers en susters, voor ek klaar is, is daar nog iets belangriks wat ek vir julle wil sê: moenie dat enigiets julle onderkry nie. Wees altyd oortuigend en opgeruimd. Julle is mos Christene wat die Here ken.Dit pla my nie om dieselfde dinge weer ’n keer aan julle te skryf nie. Dit kan mos nie kwaad doen nie, maar so sal julle net sekerder van julle saak word.

2. Wees baie versigtig vir daardie skelms wat maak asof hulle vir Jesus werk, maar eintlik net die teenoorgestelde doen. Kyk hoe sleg tree hulle op. Dit wys mos vir julle wat hulle ware gedaante is. Oppas, al waarin daardie mense belangstel, is om julle te dwing om Joodse gebruike na te kom, soos om julle te laat besny. Moenie julle daaraan steur nie.

3. Ons, die Christene, weet mos wat regtig saak maak. Dit hang nie af van wat mense aan jou doen nie, maar wat God aan jou doen. God self (en nie mense nie) het sy hand op ons gelê. Dit is nie sommer net iets fisieks wat met ons gebeur (soos met die Joodse gebruike) nie, maar God se Gees verander ons hart. Wanneer ons met God praat en Hom dien, weet ons dat dit sy Gees is wat ons help. Moenie my misverstaan nie. Ek sê nie dit is ons wat so goed is nie. Nee, ek sê dit omdat Jesus dit vir ons moontlik gemaak het.As dit wat God aan jou doen iets is wat regtig saak maak, staan ek nie ’n duim vir die ander terug nie.

4. Op menslike vlak kan ek ’n lang lys dinge opstel wat julle baie sal beïndruk. Luister net. Ek is deur en deur ’n Israeliet. Soos van elke goeie, gelowige Israeliet verwag word,

5. is ek op die agtste dag besny. Dan is ek ook nog deel van die room van die Israeliete: ek is ’n Benjaminiet. Ek is vlot in die Hebreeus wat in die godsdienstige byeenkomste van die Jode gebruik word, en nie elkeen kan dit sê nie. Ek was ook ’n lid van die party van die Fariseërs, ’n groep wat die Joodse wet stiptelik nakom.

6. In daardie tyd was ek so ernstig oor my Joodse godsdiens dat ek al wat Christen was, ywerig vervolg het. Ja-nee, volgens die Joodse wet het ek nie ’n voet verkeerd gesit nie.

7. Al dié dinge was eers vir my ook baie belangrik. Maar Christus het my oë laat oopgaan. Dit het glad geen waarde meer vir my nie. Ek het besef hoe dit ’n mens se aandag kan aftrek van wat regtig belangrik is, en dit is dat ek Christus Jesus as my Here leer ken het.

Lees volledige hoofstuk Filippense 3