hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 6 Die Boodskap (DB)

Hou julle verhoudings reg

1. Vir die kinders wil ek die volgende sê: as Christene moet julle na julle ouers luister. Dit is wat God van julle vra.

2. Die Skrif sê: “Jy moet jou pa en ma respekteer” - kyk mooi hoe gaan hierdie gebod verder, want dit is die eerste gebod waarin God iets beloof -

3. “sodat dit goed met jou sal gaan en jy ’n lang en gelukkige lewe mag hê.”

4. Vir die pa’s wil ek dit sê: moenie julle kinders so behandel dat hulle nie meer na julle wil luister en rebels raak nie. Maak hulle liewer groot soos die Here van julle verwag. Leer hulle wat om te doen en help hulle op die regte pad, al moet julle soms streng optree.

5. As julle slawe is sonder vryheid en aan iemand anders behoort, moet julle na hierdie base van julle luister. Respekteer hulle en behandel hulle met ontsag. Wat julle vir hulle doen, moet julle eerlik en opreg doen, asof julle dit vir Christus doen.

6. Moenie net hard werk as jou baas vir jou kyk om in sy goeie boekies te kom nie.

7. Werk liewer hard omdat julle aan Christus behoort en doen wat God van julle vra so goed julle kan. Julle werk mos nie eintlik vir mense nie, maar vir die Here. Laat dit straal uit alles wat julle doen.

8. Julle weet mos dat God elkeen sal beloon vir die goeie dinge wat hy gedoen het; dit maak nie saak of daardie persoon belangrik is of nie.

9. Vir die base wil ek vra om die mense wat onder hulle werk net so te behandel. Moenie hulle die hele tyd met slegte dinge dreig nie. Onthou dat julle en die mense wat onder julle werk dieselfde Here in die hemel het. Hy trek niemand voor nie, maar behandel almal eenders.

Bly naby aan die Here in julle stryd teen die Bose

10. Daar bly nog een ding oor waaroor ek met julle wil praat. As Christene moet julle in hierdie lewe sterk staan, maar julle kan dit alleen doen as julle naby aan die Here bly. Hy is sterk en daarom kan Hy julle sterk maak.

11. Laat ek die voorbeeld van soldate in ’n oorlog gebruik. Trek die klere aan wat God vir julle gegee het om mee te veg sodat die duiwel julle nie sommer om die eerste hoek en draai met al sy slim planne oorrompel nie. Een ding moet julle weet. Daar is ’n oorlog aan die gang en ons veg ook daarin.

12. Dis nie ’n oorlog teen gewone mense nie. Ons moet teen die onsigbare geestelike magte van Satan veg. Hulle hou hulle sterk hier op aarde en doen bose dinge, maar kom eintlik van oral af. Sorg dat julle al die wapens reg hou wat God vir julle gegee het sodat wanneer die bose magte op julle toesak, julle nie ’n duim vir hulle hoef terug te tree nie. Met al sy aanvalle en dinge sal die duiwel net mooi niks aan julle kan doen nie. Julle sal die wenners wees.

13. Dit is die klere wat julle moet aantrek om te keer dat die duiwel iets aan julle doen:

14. die waarheid moet jy soos ’n belt om jou middel vasbind. Die wete dat God jou van al jou sondes vrygespreek het, moet soos ’n stuk staal jou bors beskerm.

15. Jy moet altyd gereed wees om vir ander te vertel van die vrede wat Jesus vir ons bring. Dit moet soos die skoene aan jou voete wees.

16. Dan is daar nog jou geloof. Die intieme verhouding met die Here moet soos ’n skild wees waarmee jy al die giftige aanvalle van die Bose keer en eenkant toe slaan.

17. Jy is nie meer in die kloue van die sonde nie; nee, jy is gered. Dit is soos ’n ysterhelm wat jou gesig en kop beskerm. Die boodskap van God is soos ’n swaard wat die Heilige Gees vir jou gee om die stryd mee te voer.

18. Dit maak nie saak wat gebeur nie, julle moet altyd bid. Praat met God en vra Hom wat julle wil weet. Die Heilige Gees sal julle daarmee help. Onthou dit en moenie julle onkant laat vang nie. Moet ook nie vergeet om gedurig vir julle mede-Christene te bid nie. En moenie van my vergeet nie.

19. Bid asseblief vir my dat die Here vir my die regte woorde sal gee wanneer ek met mense oor Hom praat, sodat ek nie bang sal wees om vir mense van Jesus te vertel nie, al verstaan hulle nie altyd alles mooi nie.

20. Al sit ek nou hier in die tronk, het God my aangestel om die goeie nuus aan almal te vertel. Bid tog asseblief dat ek nie bang sal wees om die boodskap so reguit en duidelik te verkondig soos ek moet nie.

Groete

21. Ek wil graag hê dat julle moet weet wat hier aangaan en hoe dit met my gaan. Tigikus, my liewe broer en getroue werker vir die Here, sal julle alles vertel.

22. Dit is juis waarom ek hom na julle toe stuur:

23. hy moet vir julle vertel hoe dit met my gaan sodat julle nie meer so bekommerd hoef te wees nie.

24. Mag God, die Vader, en die Here Jesus Christus vir julle die vrede gee wat net God kan gee. Mag die Vader en Jesus Christus vir julle die liefde en geloof gee wat julle nodig het. Mag God baie goed wees vir almal wat ons Here Jesus Christus vir ewig en altyd sal bly liefhê.