hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 5 Die Boodskap (DB)

1. Maak soos God gemaak het, want so maak kinders wat ’n liefdevolle Vader het. Elke dingetjie wat jy doen, moet van liefde straal. Dit is mos die voorbeeld wat Christus vir julle gegee het.

2. Hy het ons so liefgehad dat Hy sy lewe tot ons voordeel gegee het. Hy het Homself geoffer en God het die offer aanvaar as betaling vir al die skuld wat ons met ons sondes gemaak het.

3. Onthou, julle behoort aan God. Daarom mag julle nie eens daaraan dink om seksueel verkeerde dinge van watter aard ook al te doen of om van gierigheid oor te loop nie.

4. Oppas wat julle sê. Moenie lelik praat, vuil stories of skurwe grappe vertel nie. Dit pas nie by ’n Christen nie. Praat liewer só dat dit vir God aangenaam is om te hoor.

5. Hiervan kan julle seker wees: as iemand onsedelik of vuil leef, of so graag ryk wil word dat hy van geld ’n afgod maak, is daar nie vir hom plek in die nuwe wêreld van Christus en van God nie.

Moenie iets wegsteek nie, maar leef openlik vir God

6. Moenie julle laat bedrieg deur mense wat hierdie dinge wil goedpraat met baie woorde wat eintlik dolleeg is nie. Sulke dinge bring mense in die moeilikheid by God. God sal hulle straf as hulle nie na Hom wil luister nie.

7. Bly weg van sulke mense af, hoe verder, hoe beter.

8. Julle was ook eens op ’n tyd soos mense wat in die donker geleef het.

9. Nou dien julle die Here en leef dus soos mense wat in die lig kan sien wat hulle doel is.

10. Leef dus soos mense wat niks wil wegsteek nie, maar wat alles oop en bloot in die lig doen. (Iemand wat so leef, is goed vir ander, tree op soos God van hom verwag en staan by die waarheid.) As julle iets doen, vra of die Here daarmee tevrede sal wees.

11. Bly weg van mense wat in die donker konkel. Niks goeds of blywends kan uit die gekonkel gebore word nie. Waarsku liewer ander mense daarteen deur vir hulle te wys hoe verkeerd hierdie gekonkel is.

12. Die dinge wat die ongehoorsame mense so in die donker aanvang, is so vieslik dat ek dit nie eens hier wil noem nie.

13. As die lig van Jesus egter daarop val, sal almal kan sien hoe sleg hierdie dinge werklik is.

14. In die lig kan ’n mens mos niks wegsteek nie en as dit eers in die lig is, is dit daar vir almal om te sien. Dit is daarom dat die Skrif sê:“Word wakker, jou slaper; word lewendig uit die dood, en Christus sal sy lig oor jou laat val.”

15. Wees baie versigtig hoe julle leef. Leef soos mense wat weet wat God van ’n sinvolle lewe verwag en nie soos mense wat niks daarvan weet nie.

16. Moenie jou tyd mors nie. Maak die beste gebruik van elke geleentheid wat jy kry, want ons leef in moeilike en slegte tye.

17. Moenie julle lewens mors deur sonder ’n doel te leef nie, maar maak seker hoe die Here wil hê julle moet leef.

18. Moenie te veel wyn drink nie, want dan verloor ’n mens beheer oor jouself. Laat jou hele lewe eerder deur die Gees beheer word.

19. Sing en leer mekaar met liedere wat uit die psalms kom of ander mooi geestelike liedere. Sing met julle hele hart vir die Here.

20. Moenie vergeet om altyd vir God, die Vader, baie dankie te sê vir alles nie. Doen dit omdat julle aan Jesus Christus behoort en Hy julle in staat gestel het om dit te doen.

Volledig man en vrou in die huwelik

21. Omdat julle soveel respek vir Christus het, moet die een nie dink hy is beter of belangriker as die ander nie. Elkeen moet bereid wees om dáár te wees vir die ander een.

22. Laat ek eers met die vroue praat. Jy moet die leiding van jou man aanvaar soos ons die leiding van die Here aanvaar.

23. Die man moet die leiding oor sy vrou neem soos Christus die leiding in sy kerk neem. Hy het mos sy kerk uit die kloue van die sonde gered.

24. Soos die kerk dus die leiding van Christus aanvaar, so moet die vrou ook haar man se leiding in alles aanvaar.

25. Vir die man wil ek die volgende sê: Jy moet jou vrou liefhê; wees lojaal teenoor haar en kom jou verpligtings teenoor haar na soos Christus dit teenoor sy kerk doen. Hy het selfs sy lewe ter wille van die kerk gegee toe dit nodig was.

26. Dit het Hy gedoen sodat die kerk net God s’n kan wees en daar niks in die kerk moet wees wat nie by God pas nie. Dit het gebeur deur die doop en die Woord.

27. So sal die kerk in ongekende heerlikheid by Hom wees. Daar sal niks met die kerk verkeerd wees nie en niemand sal enige fout met die kerk kan vind nie. Die kerk sal net God s’n wees en net vir Hom daar wees.

28. Die man behoort net so lief te wees vir sy vrou as wat hy vir homself is. Buitendien, die man wat sy vrou liefhet, het eintlik homself lief, want hulle is mos een in die huwelik.

29. Ek het nog nie van iemand gehoor wat homself vurig haat nie. Nee, hy kyk liewer na homself en versorg homself mooi.

30. Dit is wat Jesus met die kerk doen, want die kerk is vir Hom sy eie liggaam.

31. Die Skrif sê mos:“’n Man moet sy pa en ma verlaat en met sy vrou gaan saamleef. Die twee sal soos een mens wees.”

32. Mense kan hierdie dinge nie altyd mooi verstaan of verklaar nie. Ek noem dit omdat dit vir ons iets leer oor die sterk band wat daar tussen Christus en sy kerk is.

33. Dit geld ook van julle: elke man moet sy vrou net so liefhê as wat hy homself het, en die vrou moet haar man respekteer.