Ou Testament

Nuwe Testament

2 Timoteus 4:7-19 Die Boodskap (DB)

7. As jy die lewe met ’n wedloop kan vergelyk, kan jy sê dat ek daardie wedloop goed gehardloop het. Ek het dit klaargemaak en tot aan die einde het ek op God bly vertrou. Ek het ’n prys vir die wedloop gewen.

8. God sal vir my die prys gee wat sal sê dat my saak met Hom heeltemal reg is. Wanneer God besluit om die prysuitdeling te hou, sal die Here, wat die pryse regverdig sal uitdeel, vir my my prys gee. Nie net ek sal ’n prys kry nie, maar almal wat daarna uitsien dat Christus Jesus weer moet kom.

9. Doen jou bes om so gou moontlik na my toe te kom.

10. Demas is Tessalonika toe. Hy is nie meer by my nie, want hy het te lief geraak vir die dinge waarvan God nie hou nie. Kressens is Galasië toe en Titus is Dalmasië toe.

11. Nog net Lukas is by my. As jy kom, moet jy ook vir Markus saambring. Hy kan baie vir my en vir die werk van die Here doen.

12. Ek het Tigikus Efese toe gestuur.

13. Onthou ook asseblief om my jas en my boeke saam te bring as jy weer kom. My jas het ek by Karpus in Troas laat lê.

14. Aleksander, die kopersmid, het my ’n groot klomp skade aangedoen. Die Here sal wel met hom afreken.

15. Julle moet ook versigtig wees vir hom, want hy het sy bes probeer om alles wat ons sê belaglik te probeer maak.

16. Toe ek die eerste keer in die hof my saak moes gaan verdedig, was daar niemand by my nie. Almal het weggehardloop en my net so gelos. Mag die Here hulle nie kwalik neem daaroor nie.

17. Maar die Here het my nie alleen gelos nie. Hy was by my en het my krag gegee. Daarom kon ek die boodskap oor Jesus vir almal vertel en al die nie-Jode kon ook van God hoor. En ek is byna deur ’n leeu opgevreet, maar is gelukkig betyds gered.

18. Die Here sal my beskerm teen elkeen wat my aanval en wil seermaak. Ek sal uiteindelik saam met Hom in die hemel wees waar Hy regeer. Hy moet vir ewig grootgemaak word. So sal dit wees.

19. Sê asseblief groete vir Priscilla en Akwila asook vir almal in die gesin van Onesiforus.

Lees volledige hoofstuk 2 Timoteus 4