Ou Testament

Nuwe Testament

2 Timoteus 4:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Christus Jesus gaan as regter besluit wat eendag met die mense gaan gebeur, of hulle nog lewe en of hulle al dood is. Hy gaan weer kom en soos ’n koning kom heers.

2. Met God en Jesus as getuie sê ek vir jou: vertel vir almal die boodskap van God. Jy moet altyd reg wees om dit te doen, maak nie saak wanneer nie. As ander ’n klomp onsin vertel, help hulle reg. As hulle nie wil luister nie, praat kwaai met hulle en as iemand moedeloos is, praat hom moed in. Wees geduldig terwyl jy mense stap vir stap help om God se dinge beter te verstaan.

3. Die tyd sal kom wanneer mense nie meer belang sal stel om na die waarheid te luister nie. Hulle sal eerder wil aanloop agter dinge wat vir hulle lekker is. Daarom sal hulle liewer na predikers toe stroom wat net vir hulle vertel wat hulle graag wil hoor.

4. Van die waarheid sal hulle niks meer wil weet nie. Nee, hulle sal baie meer hou van allerhande stories oor godsdiens wat mense sommer uit hulle duim gesuig het.

5. Maar jy moet nie dieselfde fout maak nie. Bly wakker en hou altyd kop. As dit jou in die moeilikheid bring, moenie bang word nie, maar hou aan om die mense van God te vertel, want dit is jou werk. Doen alles goed wat jou werk van jou vra.

6. My tyd word nou ook min. Ek het nie meer lank om te lewe nie, dan gaan my lewe ’n offer vir God word.

7. As jy die lewe met ’n wedloop kan vergelyk, kan jy sê dat ek daardie wedloop goed gehardloop het. Ek het dit klaargemaak en tot aan die einde het ek op God bly vertrou. Ek het ’n prys vir die wedloop gewen.

8. God sal vir my die prys gee wat sal sê dat my saak met Hom heeltemal reg is. Wanneer God besluit om die prysuitdeling te hou, sal die Here, wat die pryse regverdig sal uitdeel, vir my my prys gee. Nie net ek sal ’n prys kry nie, maar almal wat daarna uitsien dat Christus Jesus weer moet kom.

9. Doen jou bes om so gou moontlik na my toe te kom.

10. Demas is Tessalonika toe. Hy is nie meer by my nie, want hy het te lief geraak vir die dinge waarvan God nie hou nie. Kressens is Galasië toe en Titus is Dalmasië toe.

11. Nog net Lukas is by my. As jy kom, moet jy ook vir Markus saambring. Hy kan baie vir my en vir die werk van die Here doen.

12. Ek het Tigikus Efese toe gestuur.

Lees volledige hoofstuk 2 Timoteus 4