Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 6:5-18 Die Boodskap (DB)

5. Ons lewens was al dikwels in gevaar. Ons is ook vervolg. Boonop moes ons groot krisisse in die gesig staar. Ons is geslaan en in tronke gestop. Mense het betogings teen ons gehou omdat ons vir hulle die goeie nuus gebring het. Ons moes hard werk om aan die lewe te bly. Baie nagte was ons sonder slaap en ons moes dikwels sonder kos klaarkom.

6. Tog leef ons rein en opreg. Ons het die regte kennis oor God. Ons is geduldig en ons straal warmte en vriendelikheid uit. Die krag van die Heilige Gees is ook deur ons werksaam. Ons het ander mense regtig lief, sonder dat ons enigiets in ruil van hulle terugverwag.

7. Ons praat altyd die waarheid. Boonop tree ons op in die groot krag wat van God af kom. Ons is tot die tande toe bewapen vir ons taak. En ons wapens? Ja, natuurlik: die goeie nuus dat God sondaars vryspreek wat ons in staat stel om reg te leef. Met hierdie wapens in ons hande durf ons die wêreld aan.

8. Ons weet hoe dit voel om deur ander geëer én beledig te word. Ons naam is al dikwels deur die modder gesleep. Ander kere weer is ons geprys en oorlaai met eer. Ons is ook al dikwels beskuldig dat ons leuens vertel. Tog praat ons net die waarheid.

9. Baie mense maak asof hulle ons glad nie ken nie. Maar gelukkig ken God ons. Mense het ons al ’n hele paar keer vir dood afgeskryf. Maar kyk: ons lewe nog. Ons is aangerand en geslaan. Tog is ons nog hier.

10. Ons ken hartseer, maar ons is altyd vol vreugde. En armoede - ja, natuurlik weet ons ook wat dit is. Maar ons het al baie mense se lewe skatryk gemaak met die goeie nuus. Ons is regtig brandarm. Nie een van ons het ’n sent op ons naam nie, tog is ons skatryk. Ons werk immers vir God aan wie alles behoort en wat ons oorlaai met sy goedheid.

11. Gelowiges van Korinte, ek praat nou reguit met julle. Ek doen dit omdat ek baie vir julle omgee.

12. Dit lyk egter nie vir my of julle dieselfde teenoor my voel nie.

13. Ek wil julle daarom baie mooi vra, julle wat my eie kinders is: gee asseblief weer vir my ’n plek in julle lewe.

14. Moenie saam met die ongelowiges agter al wat sonde is, aanloop nie. Dan is julle kort voor lank saam met hulle slawe daarvan. Dink ’n bietjie, watter ooreenkoms is daar tussen reg en verkeerd? Of tussen lig en donker? Hulle lyk dan nie eens dieselfde nie.

15. En wat het Christus met die duiwel te doen? Hy het mos nie nodig om die een of ander ooreenkoms met die Bose te sluit nie, of hoe? Wat van gelowiges en ongelowiges? Is hulle dieselfde? Nee, natuurlik nie.

16. Of moet daar miskien ’n verstandhouding tussen die woonplek van God en die afgode gesluit word? Nooit nie!Ons wat glo, is die woonplek van die lewende God. Daarom sê God in die Bybel:“Ek sal by hulle bly. My adres is daar by hulle. Ek sal hulle God wees en hulle sal my kinders wees. Daarom moet julle padgee van die sondaars af. Julle moet My altyd dien,” sê die Here.

17. “Laat staan alles wat met sonde besmet is, dan sal my hart en my hand wawyd oop wees vir julle.

18. Ek sal vir julle ’n Vader wees. Julle sal my seuns en dogters wees,” sê die Here.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 6