Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 4:6-18 Die Boodskap (DB)

6. God het heel aan die begin gesê: “Laat daar lig wees; laat die donker verdwyn.” Dieselfde God wat dit gesê het, het ook op ’n dag my lewe nuut gemaak. Hy het met sy helder lig in my donker lewe kom skyn. Toe het ek vir die eerste maal besef hoe groot en vol heerlikheid Hy is. Dit het natuurlik gebeur toe ek van aangesig tot aangesig met Jesus Christus te staan gekom het.

7. Al is God by my, is ek maar net ’n doodgewone mens. Ek is soos ’n breekbare kleipot. Die lewe stamp my ook maar goed rond. Tog dra ek ’n baie waardevolle skat hier binne-in my rond. Daarom moet julle weet dat die groot krag van God wat deur my werk, glad nie uit my kom nie. Inteendeel:

8. Ek kry dikwels swaar, maar ek is nooit mismoedig nie. Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie.

9. Ek word vervolg, maar ek weet God los my nooit alleen nie. Ek word onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op.

10. Net soos Jesus gely het toe Hy op aarde was, ly ek ook. Die merktekens daarvan is oral aan my lyf te sien. Ja, in my eie liggaam dra ek Christus se lyding en dood heeltyd met my saam. Tog is die groot krag van Jesus ook deur my liggaam aan die werk.

11. Terwyl ek lewe, word ek altyd aan die dood uitgelewer omdat ek in Jesus glo. Tog vloei die krag van Jesus se nuwe lewe ook heeltyd deur my sterflike liggaam.

12. In my lewe werk die dood, maar dit het vir julle die lewe gebring. Al my swaarkry en lyding is die moeite werd: dit het gemaak dat julle nou nuwe mense is in God se oë.

13. Die Heilige Gees werk deur ons almal. Dit is Hy wat ons laat glo. Ons doen daarom maar net wat een van die psalms sê: “Omdat ek in God glo, praat ek oor Hom.” Ons glo in Jesus; daarom is ons ook bereid om oor Hom te praat.

14. Ons weet dat God ons Here Jesus lewendig gemaak het en dat Hy ons ook eendag weer lewendig sal maak. Op daardie dag sal ons almal saam voor sy troon staan.

15. Daarom preek ek en daarom ly ek al hierdie dinge ter wille van julle. Op hierdie manier kan God se goedheid by nog meer mense uitkom. Dan is daar nog meer mense om Hom te dank. So word God se Naam grootgemaak.

16. Ons gee nooit moed op nie, ook nie wanneer ons rondgestamp en mishandel word nie. Nee, dan byt ons eers vas, want God is die hele tyd by ons. Hy maak ons elke dag van binne af nuut.

17. Ons bietjie swaarkry hier en nou weeg nie op teen al die goeie dinge wat op ons wag in God se nuwe wêreld nie. Ek het nie genoeg woorde om vir julle te beskryf hoe wonderlik dit sal wees nie. Die grootsheid en heerlikheid daarvan sal absoluut oorweldigend wees.

18. Ons staar ons glad nie blind teen alles wat hier met ons gebeur nie. Nee, ons kyk by al ons probleme en teenslae verby. Ons oog is net op God se wêreld ingestel. Dit wat ons vandag sien, is in elk geval môre nie meer daar nie. Hier hou niks vir ewig nie. Al wat vir altyd sal bly bestaan, is God se nuwe wêreld.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 4