Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 2:10-17 Die Boodskap (DB)

10. As julle bereid is om op God se pad te stap deur hierdie man te vergewe, sal ek dit ook doen. Eintlik het ek dit al klaar om julle onthalwe gedoen. Regtig. Ek jok nie. Christus weet dit.

11. As ons hierdie man nie vergewe nie, speel ons so reg in Satan se hand. ’n Bakleiery onder gelowiges pas hom baie goed. Hy probeer sy bes om dit reg te kry, soos ons almal weet.

12. Toe ek in Troas aangekom het om die goeie nuus oor Christus aan die mense daar mee te deel, het die Here vir my ’n groot deur oopgemaak. Troas se inwoners het die evangelie met albei hande aangegryp.

13. Tog was ek baie omgekrap omdat my getroue helper Titus nog nie daar was nie. Hy moes my daar ontmoet het om vir my te kom sê hoe julle op my vorige brief gereageer het. Ek het toe maar besluit om Masedonië toe te gaan om te kyk of ek hom daar kon raakloop.

14. Ons moet vir God opreg dankie sê, want Hy vat ons oral met Hom saam in sy groot oorwinningstog deur die wêreld. Op elke plek waar ons kom, gebruik God ons.

15. Ons is soos ’n aangename geur wat ander mense van Christus bewus maak. Ons versprei die wonderlike aroma van Christus tot eer van God. Almal wat met ons te doen het, weet daarvan: dié wat in Hom glo, en ook dié wat op pad is na die dood toe.

16. Vir mense wat nie in Christus glo nie, gee ons ’n doodsreuk af. Maar vir mense wat die goeie nuus glo, gee ons die heerlike geur van lewe af.

17. Natuurlik is dit ’n groot verantwoordelikheid om Christus se aroma in hierdie wêreld te wees. Ek weet dat ek sy aroma is. “Hoe?” vra julle. Want ek probeer nie geld maak uit die woord van God soos party ander mense nie. Ek is eerlik en opreg. Omdat ek deur God self aangestel is en aan Christus behoort, kom alles wat ek sê van God af. Niks wat ek doen, steek ek ooit vir God weg nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 2