hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 2 Die Boodskap (DB)

1. Wat sou my besoek julle help as dit net hartseer en trane sou veroorsaak in plaas van vreugde?

2. As my besoek julle net sou omkrap, wie sou my dan kon opbeur? Net julle! En dit sou nooit as te nimmer werk nie. Om van mense wat kwaad is te verwag om die een wat hulle omgekrap het te troos, is onmoontlik.

3. Daarom het ek besluit om maar liewer ’n brief aan julle te skryf. Dit was die veiligste keuse. Op dié manier kon ek ten minste sorg dat ek nie deurloop onder julle klomp wie se plig dit eintlik is om my op te beur nie. In elk geval: ek is seker dat julle almal ook gelukkig is wanneer ek gelukkig is. En my keuse om aan julle te skryf eerder as om julle te kom besoek, maak my gelukkig.

4. Moenie vir ’n enkele oomblik dink dat dit vir my maklik was om my vorige brief aan julle te skryf nie. My hart was regtig baie seer toe ek dit gedoen het. Onder baie pyn en trane het ek daardie brief na julle toe gestuur. Natuurlik wou ek julle nie omkrap nie. Julle moes juis in my brief agterkom hoe lief ek julle almal het.

Vergewe!

5. Ek moet ook met julle praat oor daardie man wat al die ongelukkigheid in julle kerk veroorsaak het. Hy het my voor almal beledig toe ek laas by julle was. Gelukkig het dit my nie omgekrap nie. Ek weet egter dat dit julle almal ontstel het - wel, ten minste die meeste van julle. Maar moenie julle verder bekommer nie.

6. Dié man het al klaar sy straf ontvang. Julle het hom mos kwaai oor sy optrede aangespreek.

7. Nou moet julle ophou om vir hom kwaad te wees. Vergewe hom en wys vir hom dat julle vir hom omgee. Die arme man voel al sleg genoeg oor sy sonde.

8. Hou op om hom nog verder te ontstel, anders gee hy later heeltemal moed op.

9. Ek het my vorige brief aan julle geskryf om te sien of julle hierdie toets kan slaag. Ek wou sien of julle regtig sal doen wat God van julle verwag.

10. As julle bereid is om op God se pad te stap deur hierdie man te vergewe, sal ek dit ook doen. Eintlik het ek dit al klaar om julle onthalwe gedoen. Regtig. Ek jok nie. Christus weet dit.

11. As ons hierdie man nie vergewe nie, speel ons so reg in Satan se hand. ’n Bakleiery onder gelowiges pas hom baie goed. Hy probeer sy bes om dit reg te kry, soos ons almal weet.

Van Troas tot in Masedonië

12. Toe ek in Troas aangekom het om die goeie nuus oor Christus aan die mense daar mee te deel, het die Here vir my ’n groot deur oopgemaak. Troas se inwoners het die evangelie met albei hande aangegryp.

13. Tog was ek baie omgekrap omdat my getroue helper Titus nog nie daar was nie. Hy moes my daar ontmoet het om vir my te kom sê hoe julle op my vorige brief gereageer het. Ek het toe maar besluit om Masedonië toe te gaan om te kyk of ek hom daar kon raakloop.

In die wenspan

14. Ons moet vir God opreg dankie sê, want Hy vat ons oral met Hom saam in sy groot oorwinningstog deur die wêreld. Op elke plek waar ons kom, gebruik God ons.

15. Ons is soos ’n aangename geur wat ander mense van Christus bewus maak. Ons versprei die wonderlike aroma van Christus tot eer van God. Almal wat met ons te doen het, weet daarvan: dié wat in Hom glo, en ook dié wat op pad is na die dood toe.

16. Vir mense wat nie in Christus glo nie, gee ons ’n doodsreuk af. Maar vir mense wat die goeie nuus glo, gee ons die heerlike geur van lewe af.

17. Natuurlik is dit ’n groot verantwoordelikheid om Christus se aroma in hierdie wêreld te wees. Ek weet dat ek sy aroma is. “Hoe?” vra julle. Want ek probeer nie geld maak uit die woord van God soos party ander mense nie. Ek is eerlik en opreg. Omdat ek deur God self aangestel is en aan Christus behoort, kom alles wat ek sê van God af. Niks wat ek doen, steek ek ooit vir God weg nie.