Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 12:10-21 Die Boodskap (DB)

10. Na hierdie antwoord van die Here het hierdie doring in my vel skielik die krag in my lewe geword. Ek het ontdek dat swaarkry en swakhede deel van die Here se plan met my lewe is. Van toe af kon ek selfs spog oor hoe swaar dit met my gaan sodat Christus die enigste kragbron van my lewe kan wees.Weet julle, ek is glad nie meer omgekrap oor my swakhede en probleme nie. Wanneer mense my slegsê, wanneer ek mishandel word, wanneer ongelowiges my vervolg, of wanneer ek bang en benoud is omdat ek vir Christus werk, is ek doodtevrede. Want wanneer ek swak is, is ek juis sterk. My eie swakheid leer my om net op Christus se groot krag staat te maak.

11. Ja, ek het toe soos ’n dwaas oor myself gaan staan en praat. Maar julle het my gedwing om dit te doen. Dit sou nie nodig gewees het as julle my goeie naam beskerm het voor daardie danige apostels wat nou in Korinte is nie. Al dink hulle dat hulle verskriklik belangrik is, staan ek nie ’n enkele tree terug vir hulle nie. Natuurlik is ek glad nie iets besonders nie. Ek is net ’n doodgewone mens.

12. Tog het ek alles gedoen wat van my as God se apostel verwag word. Toe ek daar by julle was, het ek groot tekens en wonders en kragtige dade gedoen. Dit is mos wat julle van ’n apostel verwag, of hoe?

13. Sê my, het ek julle al ooit afgeskeep? Het ek julle slegter behandel as die ander gemeentes, behalwe dat ek geweier het om julle geld te aanvaar? Vergeef my tog dat ek julle hierdie verskriklike “onreg” aangedoen het.

14. Ek staan nou op die punt om julle ’n derde maal te kom besoek. Maar moenie bekommerd wees nie. Ek is nie van plan om hierdie keer julle geld te kom vat nie. Ek wil niks van julle hê nie, behalwe natuurlik dat julle voluit vir die Here moet lewe. Dit is immers my plig as julle pa in die geloof om te sorg dat julle reg lewe. En soos ’n goeie pa moet ek ook sorg dat julle ’n groot geestelike erfporsie het.

15. Ek is so lief vir julle dat ek bereid is om alles wat ek het weg te gee vir julle. Ja, ek sal selfs my eie lewe vir julle opoffer. Daarom kan ek nie verstaan hoekom julle my al hoe minder liefhet terwyl ek julle al hoe meer liefhet nie.

16. Julle stem teen hierdie tyd hopelik saam dat ek nog nooit enige geldelike las vir julle was nie. Maar miskien dink julle dat dit ’n skelmstreek van my kant af is.

17. Dalk sê julle onder mekaar dat ek julle geld met ’n ompad in die hande probeer kry deur een van my helpers wat ek na julle toe gestuur het. Wel, dit is glad nie waar nie.

18. Om seker te maak dat alles reg verloop, het ek juis vir Titus en die verteenwoordiger van al die gemeentes na julle toe gestuur. Het hulle julle dalk te kort gedoen? Natuurlik nie! Net soos hulle het ek julle ook nie probeer verkul nie. Ons drie praat immers dieselfde taal.

19. Ek hoop nie julle dink al die tyd dat ek besig is om myself voor julle te verdedig nie. God is die enigste regter oor my lewe. Omdat ek aan Christus behoort, sal God alleen oor my lewe besluit. Maar julle kan van een ding seker wees, my liewe broers en susters: alles wat ek sê en doen, is daarop gerig om julle geloof sterk te maak.

20. Ek is bekommerd dat my volgende besoek aan julle dalk nie so goed sal afloop as wat ek hoop nie. Ek is bang dat wanneer ek in Korinte aankom, ek sal agterkom dat julle nie leef soos volgelinge van Christus behoort te leef nie. Ja, en miskien is julle dan ook teleurgesteld in my omdat ek nie voldoen aan julle verwagtings van hoe ’n apostel moet optree nie. Dan is al ons harde werk daarmee heen. ’n Groot gestry, jaloesie, die een argument op die ander, verdeeldheid, ’n rugstekery, skinderveldtogte, hoogmoed en chaos sal dan die enigste gevolge van so ’n slegte ontmoeting tussen my en julle wees.

21. Ek is ook bang dat my God my daar voor julle almal in die verleentheid sal bring as ek van voor af ontsteld raak oor daardie mense wat aanhou om dieselfde sondes te doen. Tot nou toe weier hulle om hulle te bekeer van al daardie vieslike onreinhede en seksuele sondes waaraan hulle meedoen.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 12