Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 1:11-19 Die Boodskap (DB)

11. Bid asseblief vir ons. Daarsonder kan ons glad nie ons werk vir die Here doen nie. Julle gebede maak dat baie ander mense ook begin bid. Hulle sal vir God dankie sê omdat Hy ons met sy hemelse gawes toegerus het sodat ons die goeie nuus aan hulle kan bekendmaak. Op hierdie manier werk al julle gebede mee aan die uitdra van die evangelie.

12. Ek is trots daarop dat ek opreg optree teenoor almal, ook teenoor julle. God self stel my in staat om sonder vals motiewe op te tree. Hiervan is ek absoluut oortuig. Ek hou my nie met allerhande slimpraatjies besig nie. Nee, ek is heeltemal afhanklik van God se goedheid.

13. In my briewe skryf ek oor sake wat julle maklik kan verstaan. Daarom glo ek julle sal verstaan dat julle baie trots op my kan wees wanneer ons almal saam op die laaste dag voor die Here Jesus staan. Natuurlik sal ek op daardie dag ook baie trots op julle wees.

14. Gelukkig verstaan julle darem nou al so ’n ietsie van hierdie goeie nuus.

15. Omdat ek so trots op julle is, het ek vroeër besluit om eerste na julle toe te kom voordat ek Masedonië toe gaan.

16. Later op pad terug van daar af sou ek dan ’n tweede maal by julle kom oorbly het. So sou julle sommer twee keer deel kon hê in al die wonderlike hemelse geskenke wat God vir my gegee het. Boonop sou julle my tydens my tweede besoek kon help met al my voorbereidings vir my reis na Judea. Ongelukkig het hierdie planne toe nie so uitgewerk nie.

17. Miskien dink julle by julleself: “Daardie Paulus sê een ding, maar doen iets anders. Hy belowe hy kom ons besoek, maar dan daag hy nie op nie.” Het ek sommer uit my eie hierdie besluite geneem, sonder om eers te vra wat God se wil is?

18. Is ek ’n regte jabroer wat die een ding sê en ’n ander ding doen? Nee, glad nie. God weet ek praat die waarheid met julle.

19. Julle weet ook dat ek julle nie bedrieg het toe ek en Silvanus en Timoteus vroeër daar by julle gewerk het nie. Ons het mos nie die een dag een ding gesê en die volgende dag iets anders kwytgeraak nie. Ons het net met julle oor Jesus Christus, die Seun van God, gepraat.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 1