Ou Testament

Nuwe Testament

1 Tessalonisense 2:10-20 Die Boodskap (DB)

10. Julle weet dat nie ek of een van my helpers ’n voet verkeerd gesit het daar by julle nie. God weet dit ook. Ons het alles gedoen wat Hy van ons verwag.

11-12. Ons het nie een van julle sleg behandel nie. Soos ’n pa wat mooi met sy kinders praat en hulle aanmoedig om die regte dinge te doen, het ons mooi met julle almal gepraat. Ons het by julle gepleit om God te verheerlik deur alles wat julle doen en sê. Hy self het julle uitgesoek om deel te wees van sy hemelse koninkryk en om te deel in sy heerlikheid.

13. Ek kan nie ophou om vir God dankie te sê oor julle nie. Toe julle begin glo het wat ons vir julle oor God vertel het, het julle nie slegs ’n paar menslike opinies oor God aanvaar nie. Nee, julle het die lewende God se woord aangeneem. En julle is reg, want dit is regtig die woord van God. Hy self werk nou in julle almal wat glo.

14. My broers en susters, julle weet teen hierdie tyd ook van die gemeentes van God daar in Judea. Net soos julle behoort hulle ook aan Jesus Christus. En, net soos hulle daar in Judea onder die Jode moes ly as gevolg van hulle geloof, ly julle nou ook onder julle eie volksgenote.

15. Daardie Jode wat die kerk nou so vervolg, het ons Here Jesus en God se boodskappers doodgemaak. Hulle tree teen God se wil op. Ja, hulle is niks minder nie as vyande van die mensdom.

16. Hulle het hulle bes gedoen om my te probeer keer om die goeie nuus aan mense uit ander volke te preek sodat hulle ook gered kon word. Daardeur het hulle hulle eie graf gegrawe. Hulle beker loop oor van sonde! Daarom het God se oordeel hulle reeds begin tref.

17. My liewe broers en susters, ons was skaars weg daar by julle, toe begin ek al na julle verlang. Julle was die hele tyd in my gedagtes. Later het ek so baie aan julle gedink dat ek besluit het ek moet julle eenvoudig weer sien.

18. Ek het toe begin planne maak om weer in Tessalonika uit te kom. Weet julle, ek het hard probeer om na julle toe te kom, maar Satan het elke keer ’n stokkie voor my planne gesteek.

19. Ek is verskriklik trots op julle, want ek weet julle is op pad na God se nuwe wêreld. Op daardie dag wanneer ons Here Jesus terugkeer, sal my hart oorloop van blydskap as ons voor Hom staan. Julle sal die bewys wees dat ek my werk vir die Here goed gedoen het. Dan sal ek nie my kop in skaamte hoef te laat sak nie.

20. Ek sal trots vir Christus kan sê dat julle voluit vir Hom geleef het. Ek kan nie genoeg vir julle sê hoe bly ek oor julle almal is nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Tessalonisense 2