Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 9:2-11 Die Boodskap (DB)

2. Al dink ander dalk nie dat ek iemand is met ’n spesiale opdrag van God nie, moet julle ten minste darem so dink. Dat julle julleself vandag Christene kan noem, is die sigbare bewys daarvan dat ek spesiaal deur God gestuur is.

3. Ek is nie bang om die mense wat my so kritiseer reg te help nie. Vir hulle het ek dit te sê:

4. Mag ek nie by mense ’n bord kos of iets te drinke kry as ek onder hulle vir die Here werk nie?

5. Het ek nie ook die reg om met ’n mede-Christen te trou en haar saam met my op my sendingreise te neem nie? Ander mense wat deur die Here gestuur is, doen dit, onder andere ook die broers van die Here en Sefas.

6. Is dit net ek en Barnabas wat nie hulp van die gemeente mag kry nie, maar self vir ons brood en botter moet werk?

7. Watter soldaat moet sy eie salaris betaal? Watter boer plant ’n klomp vrugtebome, maar mag nie van die vrugte eet nie? As iemand dag vir dag koeie oppas, sal julle mos nie weier dat hy ook van die melk proe nie.

8. Hierdie voorbeelde ken ons uit die alledaagse lewe. Maar God wil dit ook so hê.

9. Dit lees ons in sy wet. Moses het mos al geskryf: “Jy mag nie die bek van ’n bees toebind wat op die graanlande help nie.” Was God vreeslik bekommerd oor die beeste

10. of wou Hy die gemeentes liewer ’n les leer oor hoe hulle die mense moet behandel wat vir hulle werk? Natuurlik gaan dit eerder oor ons. As mense hard saamwerk aan iets, moet elkeen mos ’n stukkie van die wins kry as dit verkoop word.

11. As ek nou geestelik hard werk daar onder julle, is dit seker nie te veel gevra om darem so iets tasbaars van julle te kry om aan die lewe te bly nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 9