Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 6:4-18 Die Boodskap (DB)

4. As julle dan met mekaar vassit, waarom hardloop julle na regters toe wat nie eens in die gemeente is nie? Hoe is dit moontlik om so ’n persoon te vertrou met wat reg of verkeerd is?

5. Ek sê dit om julle ’n bietjie wakker te skud sodat julle kan sien wat julle besig is om te doen. Wil julle sowaar vir my sê dat daar nie ’n enkele persoon onder julle is wat verstandig genoeg is om julle te help om julle probleme onder mekaar op te los nie?

6. Kyk net wat vang julle nou aan. Een Christen sleep ’n ander Christen voor die hof en dit nog voor mense wat glad nie in God glo nie.

7. Wat sê julle nou eintlik met hierdie hofsake wat julle so teen mekaar voer? Julle sê eintlik dat julle ’n klomp verloorders is. Nie een van julle kan ’n wenner in so ’n saak wees nie. Hoekom is julle nie maar bereid om die minste te wees of selfs maar aan die kortste ent te trek ter wille van die groter saak van julle Christenskap nie?

8. Maar kyk wat vang julle aan. Julle is die skuldiges. Dit is julle wat ander mense seermaak en aan die kortste ent laat trek deur verkeerde dinge aan hulle te doen. En dit doen julle nogal aan die mense wat saam met julle op die kerkbanke sit.

9. Besef julle nie dat dit nie die manier is om julle te gedra nie? Iemand wat nie wil leef soos God dit wil hê nie, is nie welkom in sy nuwe wêreld nie. Moenie julleself om die bos lei nie. Mense wat seks misbruik, of wat seks met persone van dieselfde geslag het, mense wat hulle nie steur aan die reëls van die huwelik nie, wat agter allerhande valse gode aanloop en wat ander se goed vat, sal nooit die binnekant van God se nuwe wêreld sien nie.

10. Die lysie gaan aan: dieselfde geld ook vir mense wat nooit genoeg kry nie en altyd net al hoe meer wil hê, wat drank hulle god gemaak het, wat net lieg en bedrieg vir eie gewin of wat dit geniet om lelik van ander te praat.

11. Julle herken seker hierdie beskrywings, want daar was ’n klomp van julle wat voorheen so geleef het. Maar julle lewe het verander - God het die sonde soos vuilgoed van julle afgewas; Hy het julle spesiaal net Syne gemaak. Julle saak met God is nou heeltemal reg. Daarvoor het die Here Jesus Christus self gesorg saam met die Gees van ons God.

12. ’n Mens kan redeneer: “Ek mag enigiets doen.” Maar al mag jy volgens die reëls iets doen, beteken dit nie dat dit vir jou geestelik goed is nie. Ek kan sê: “Ek mag enigiets doen,” maar dit beteken glad nie dat ek myself in ernstige moeilikheid gaan laat beland nie.

13. Julle weet wat mense sê: “Eers eet jy om te leef en dan leef jy om te eet.” Vir God maak dit nie saak nie, want dit is nie wat belangrik is nie. Nie kos of die maag sal vir ewig hou nie. Vir een ding is ons liggaam nie bedoel nie en dit is om net instrumente vir seks te wees. Ons het ’n liggaam om die Here mee te dien en die Here sorg op sy beurt vir ons liggaam. God sal ons dooie liggaam eendag weer lewendig maak.

14. Hy het gewys dat Hy sterk genoeg is om dit te doen toe Hy die Here weer lewendig gemaak het.

15. Besef julle nie dat julle liggaam vir Jesus soos sy eie is nie? Sal ek dan die liggaam wat vir Jesus soos sy eie is, vat en by allerhande slegte vroue daarmee gaan slaap? Nooit aste nimmer nie.

16. Iemand wat by ’n slegte vrou slaap, word eintlik self soos daardie slegte vrou - ’n mens sou kon sê dat hulle soos een mens word. Hulle sê mos: “As twee saamslaap, word hulle eintlik soos een mens.”

17. Dit is op geestelike gebied ook waar. As ’n mens jouself vir die Here gee, word julle twee ook soos een. Dit gebeur natuurlik nie liggaamlik nie, maar geestelik.

18. Maak dat julle wegkom van verkeerde seksuele dinge af. Bly daarvan weg. Allerhande ander sondes raak nie jou liggaam so direk nie. Maar as jy op seksuele gebied verkeerde dinge begin doen, is jou liggaam direk daarby betrokke. Die verkeerde dinge gebeur nie daar ver nie, maar in en met jou liggaam.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 6