Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 4:9-15 Die Boodskap (DB)

9. As ek so na julle kyk, lyk dit vir my of God ons - wat spesiaal deur Hom gestuur is - buite gegooi het om daar in die donker en koue van ellende te vergaan. Almal wat leef en beef - of dit nou hemelse wesens of mense is - kan sien hoe sleg dit met ons gaan. Vir ander lyk ons maar dom, maar ons is dit vir Christus. Julle gaan egter deur as die verstandige Christene. Laat ek aangaan.

10. Ons is maar pateties, maar julle is natuurlik die teenoorgestelde; mense behandel julle ordentlik en met respek, maar vir ons behandel hulle asof ons iewers uitgekruip het. Kyk na ons.

11. Ons het nie altyd genoeg om te eet of te drink nie; ons klere is oud en stukkend; mense behandel ons of ons ’n aansteeklike siekte het. Ons swerf rond sonder ’n dak oor ons kop, en

12. kyk net na ons hande, hulle is hard en skurf soos ons werk om aan die lewe te bly.

13. As mense op ons vloek, sê ons mooi dinge vir hulle terug. As hulle ons wegjaag of die polisie op ons sit, verdra ons dit maar geduldig. Ons bly gaaf, al sê hulle die lelikste dinge van ons. Ons is die skuim van die samelewing. Mense dink niks van ons nie. So gaan dit tot vandag toe nog.

14. Ek skryf nie oor hierdie dinge op hierdie trant om julle sleg te laat voel nie. Ek doen dit eerder om julle reg te help, want ek het julle lief soos iemand sy eie kinders liefhet.

15. Onthou dit, julle kan duisende mense hê wat vir julle baie dinge oor Christus leer, maar julle kan net een geestelike vader hê. Ek is julle geestelike vader. Ek het julle geestelike vader geword toe julle vir die eerste maal by my die wonderlike boodskap oor Jesus Christus gehoor het.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 4