Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 4:4-13 Die Boodskap (DB)

4. Ek voel nie sleg oor wat ek doen nie en my gewete pla my ook nie. Dit beteken nie dat ek alles reg doen nie. God sal daaroor besluit.

5. Moet daarom nie te vinnig wees om te sê die een ding is sleg of die ander ding is goed nie. Wag geduldig tot die Here kom. Hy sal nie oppervlakkig oordeel nie. Die dinge wat mense skelm gedoen het, sal dan nie meer in die donker bly nie. Dit sal oop en bloot wees vir almal om te sien. Die motiewe waarmee mense vir die Here gewerk het, sal op dié dag nie meer weggesteek kan word nie. Dit sal daar wees vir almal om te hoor. Dit sal soos ’n prysuitdeling wees: elkeen sal van God die prys kry wat hy verdien.

6. My liewe vriende, ek het myself en Apollos as voorbeeld gebruik om dit vir julle makliker te maak om te verstaan wat die gesegde beteken: “Moenie verder gaan as wat God jou geleer het om te gaan nie.” As julle dit verstaan, sal julle nie die een werker van God prys en die ander een afkraak nie.

7. Wie gee jou miskien die reg om te dink jy is beter as iemand anders? Het jy miskien iets wat jy nie van die Here af gekry het nie? Nou ja, as jy alles van Hom af gekry het, waarom gaan jy so te kere asof dit jy self is wat so goed is?

8. Julle dink mos julle het alles wat julle nodig het, ja, in julle eie oë is julle geestelike miljoenêrs. Julle gedra julle asof julle die belangrikste mense op die aarde is en ons glad nie nodig gehad het nie. Ek wens dat julle régtig so belangrik geword het, want dan sou ons saam met julle net so belangrik kon wees.

9. As ek so na julle kyk, lyk dit vir my of God ons - wat spesiaal deur Hom gestuur is - buite gegooi het om daar in die donker en koue van ellende te vergaan. Almal wat leef en beef - of dit nou hemelse wesens of mense is - kan sien hoe sleg dit met ons gaan. Vir ander lyk ons maar dom, maar ons is dit vir Christus. Julle gaan egter deur as die verstandige Christene. Laat ek aangaan.

10. Ons is maar pateties, maar julle is natuurlik die teenoorgestelde; mense behandel julle ordentlik en met respek, maar vir ons behandel hulle asof ons iewers uitgekruip het. Kyk na ons.

11. Ons het nie altyd genoeg om te eet of te drink nie; ons klere is oud en stukkend; mense behandel ons of ons ’n aansteeklike siekte het. Ons swerf rond sonder ’n dak oor ons kop, en

12. kyk net na ons hande, hulle is hard en skurf soos ons werk om aan die lewe te bly.

13. As mense op ons vloek, sê ons mooi dinge vir hulle terug. As hulle ons wegjaag of die polisie op ons sit, verdra ons dit maar geduldig. Ons bly gaaf, al sê hulle die lelikste dinge van ons. Ons is die skuim van die samelewing. Mense dink niks van ons nie. So gaan dit tot vandag toe nog.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 4