Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 4:11-21 Die Boodskap (DB)

11. Ons het nie altyd genoeg om te eet of te drink nie; ons klere is oud en stukkend; mense behandel ons of ons ’n aansteeklike siekte het. Ons swerf rond sonder ’n dak oor ons kop, en

12. kyk net na ons hande, hulle is hard en skurf soos ons werk om aan die lewe te bly.

13. As mense op ons vloek, sê ons mooi dinge vir hulle terug. As hulle ons wegjaag of die polisie op ons sit, verdra ons dit maar geduldig. Ons bly gaaf, al sê hulle die lelikste dinge van ons. Ons is die skuim van die samelewing. Mense dink niks van ons nie. So gaan dit tot vandag toe nog.

14. Ek skryf nie oor hierdie dinge op hierdie trant om julle sleg te laat voel nie. Ek doen dit eerder om julle reg te help, want ek het julle lief soos iemand sy eie kinders liefhet.

15. Onthou dit, julle kan duisende mense hê wat vir julle baie dinge oor Christus leer, maar julle kan net een geestelike vader hê. Ek is julle geestelike vader. Ek het julle geestelike vader geword toe julle vir die eerste maal by my die wonderlike boodskap oor Jesus Christus gehoor het.

16. Daarom vra ek julle baie mooi om te maak soos ek maak. Neem die voorbeeld wat ek stel ernstig op.

17. Juis daarom stuur ek Timoteus na julle toe. Hy is vir my soos ’n seun en ek het hom baie lief. Hy is ook baie getrou aan die Here. Hy sal weer met julle gesels oor hoe ek as Christen leef en wat ek oor Christus leer. Julle onthou mos nog. Dit is wat ek oral, in elke gemeente, vir al die mense leer.

18. Daar is party van julle wat ewe windmakerig hulle invloed in die gemeente wil laat geld en voorgee dat ek nie die moed sal hê om weer na julle toe te kom nie. Daar wag ’n verrassing vir julle.

19. As die Here my toelaat, is ek binnekort weer daar by julle. Dan sal ons sien of daardie ouens wat so baie van hulleself dink net ’n klomp wind is en of daar iets in hulle steek.

20. Immers, as iemand ’n kind van God is, sal ’n mens in die manier waarop hy leef die krag van God kan sien. Dit vra baie meer as om net ’n klomp storietjies te maak.

21. As julle nou moet kies, wat sou julle wou hê? Moet ek met ’n sambok kom om slae te kom uitdeel of moet ek liewer met liefde en vriendelikheid kom? Besluit julle maar self.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 4