Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 3:5-16 Die Boodskap (DB)

5. Wie is Apollos nou miskien dat hy so besonders is? Of Paulus, dat die gemeente so oor hulle moet stry? Hulle is maar net werkers van God wat julle gehelp het om Jesus te leer ken. Die Here het vir elkeen sy spesiale werk gegee. Dit is maar al wat hulle doen.

6. Ek het die saad van die evangelie in julle hart geplant en Apollos het dit nat gehou, maar dit was God wat gesorg het dat daardie saad groei.

7. Wie dink julle is nou eintlik die belangrikste van hierdie drie? Natuurlik God wat daardie saad lewe gee en dit laat groei.

8. Die een wat die saad plant en die een wat dit nat hou, werk saam soos in een span. Daar is nie ’n verskil in die belangrikheid van wat hulle doen nie. Buitendien is God - en nie ons nie - die Een wat sal sorg dat elkeen van hulle die dank sal kry wat hulle verdien.

9. Ek en Apollos is maar net mense wat die voorreg het om God te help. En julle is die mense wat God vir ons gegee het om te help.’n Mens kan julle, as die Here se gemeente, ook vergelyk met ’n gebou wat aan God behoort.

10. God was baie goed vir my en het my geleer om in julle gemeente te werk soos ’n bouer wat sy werk ken. Ek het die fondament stewig en goed gelê. Ander bouers werk nou verder aan die gebou. Elkeen wat daarná bou, moet egter doodseker maak dat hy behoorlik en reg bou.

11. Daar kan net op een plek gebou word en dit is waar ek die fondament gelê het.Daardie fondament is Jesus Christus. Geestelike bouwerk op enige ander fondament help niks nie. Dit maak ook baie saak hoe en waarmee ’n mens op daardie fondament bou.

12. Kyk mooi na die materiaal wat julle gebruik om te bou,

13. want die Here gaan inspeksie kom hou. Julle sal dit nie vir Hom kan wegsteek as julle minderwaardige of afskeepmateriaal gebruik het om die gebou van sy gemeente te bou nie.

14. God sal vir hulle wat goed gebou het ’n goeie beloning gee.

15. Maar die mense wat sleg gebou het, sal op die dag wanneer die Here weer kom om hulle werk te inspekteer, baie spyt wees. Die Here sal hulle wel nie wegjaag nie, maar dit sal vir hulle net so goed wees asof hulle niks vir die Here gedoen het nie. Hulle sal met ’n bloedrooi gesig skaam agter in die ry moet gaan staan.

16. Julle besef natuurlik dat julle die plek is waar God op ’n baie spesiale manier teenwoordig is, soos in ’n tempel. God se Gees bly mos in julle soos iemand in ’n huis bly.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 3