Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 10:15-24 Die Boodskap (DB)

15. Julle is mos slim genoeg om self te besluit of wat ek sê waar is of nie.

16. By die maaltyd van die Here sê ons mos altyd vir die Here baie dankie vir die beker. Is die beker waarvoor ons so dankie sê, nie juis vir ons ’n bewys dat die bloed van Jesus ook vir ons bedoel is nie? En as ons die brood eet, is dit nie ’n bewys van wat Jesus se liggaam alles vir ons beteken nie? Ons elkeen kry ’n klein stukkie van die een groot stuk brood.

17. So deel baie mense een brood. Daarom vorm ons as gemeentelede ’n hegte eenheid as ons saam die nagmaalsbrood eet, al is ons baie verskillende mense.

18. Kom ons gaan steek weer kers op by wat onder die Joodse volk gebeur. Mense wat ywerig alles doen wat hulle godsdiens van hulle vra, wil eintlik daarmee sê dat hulle die god van daardie godsdiens erken en dien, nie waar nie?

19. Daarmee wil ek nie sê dat al die godsdienstige dinge wat mense vir ’n afgod doen nou skielik daardie afgod lewendig maak nie.

20. Wat wel gebeur, is dat daardie mense eintlik alles vir duiwels doen, want hulle doen dit beslis nie vir God nie. En ek wil seker maak dat julle nie duiwels in plaas van God dien nie.

21. ’n Mens kan nie aan die een kant die nagmaalsbeker drink en dan omdraai en by ’n afgodstempel instap en daar drink en doen soos jy wil nie. Net so min kan jy in die oggend saam met die Here aan sy nagmaalstafel sit en dan die middag saam met die demone gaan feesvier.

22. Wat dink julle doen julle as julle met sulke dinge besig is? Dink julle miskien dat julle die Here jaloers kan maak of dat julle sterker is as Hy?

23. As ’n mens byvoorbeeld vleis kry wat aan afgode geoffer is, sou die gelowige kon redeneer: “Ek mag alles doen.” Maar dan moet hy die tweede deel van hierdie sin onthou: “Nie alles is goed om te doen nie.”

24. Dié wat so spog dat hulle alles mag doen, moet onthou dat dit wat ’n mens doen, vir ander mense ook iets moet beteken. Jy moet nie net altyd aan jouself dink nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 10