hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 4 Die Boodskap (DB)

Moenie almal glo wat sê God

1. Liewe vriende, moenie enige persoon glo wat beweer hy sê dit of dat onder die invloed en leiding van die Gees nie. Ondersoek en toets eers hierdie “geestesuitsprake”. Kyk of die oorsprong daarvan regtig by God lê; die wêreld is vol vals profete.

2. Ons kan die Gees van God só uitken: iemand wat nie bang is om vir seker te sê dat Jesus Christus mens van vlees en bloed geword het nie, het die Gees wat van God af kom.

3. Daarteenoor het enigiemand wat Jesus nie erken vir wie Hy is nie, nie die Gees wat van God af kom nie. Die gees van die antichris is met hom besig. Julle het mos gehoor dat hierdie gees aan die kom is. Wel, dit is nou hier!

4. My kinders, julle is deel van die familie van God en behoort aan Hom. Daarom staan julle heeltyd aan die wenkant teen hierdie vals profete. Die rede is eenvoudig dít: God, wat aan julle kant is, is baie groter en sterker as die een wat aan die kant van die wêreld staan!

5. Hierdie vals profete behoort aan hierdie wêreld. Dit is waarom alles wat hulle sê so wêrelds is en die wêreld so graag na hulle luister.

6. Ons is kinders van God. Wie ook ’n kind van God is, luister na ons. Wie egter nie ’n kind van God is nie, luister nie na ons nie. So kan ons weet wanneer ons met die Gees van waarheid te doen het en wanneer die gees van bedrog en misleiding aan die werk is.

God is liefde

7. My liewe vriende, laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want liefde kom van God af. Aan liefde ken ’n mens die kinders van God uit, want hulle ken Hom goed.

8. God is liefde! Iemand wat nie liefhet nie, weet niks van God nie.

9. Goddelike liefde lyk só: God het sy unieke Seun na die wêreld gestuur om vir ons die ewige lewe te kom gee.

10. Dit is dié soort liefde waarvan ek praat: dit gaan nie oor die liefde waarmee ons God liefhet nie. Nee, dit gaan oor die liefde waarmee God ons liefhet. Hierdie liefde het gemaak dat Hy sy Seun gestuur het met ’n doel: om te sorg dat al ons sondes vergewe word.

11. Liewe vriende, God het vir ons gewys wat ware liefde is. Ons behoort mekaar ook so lief te hê.

12. Niemand het God nog ooit gesien nie. As ons egter mekaar liefhet, kan mense God in ons lewe sien. Sy liefde blom in ons soos Hy bedoel het dit moet wees.

13. Dít is vir ons die bewys van die intieme verhouding wat tussen God en ons as sy kinders bestaan: God het sy Gees in ons laat werk.

14. Ons het alles gesien en kan dus vir seker sê: Die Vader het sy Seun gestuur met die doel om die mense op aarde te kom red.

15. Iemand wat dus bely: “Jesus is die Seun van God,” leef intiem saam met God en God saam met hom.

16. God het ons lief. Ons weet en glo dit.God is liefde. As daar dus liefde uit jou lewe straal, vertel dit hoe naby jy aan God leef.

17. So bereik die liefdevolle God sy doel met ons: ons kan die oordeelsdag met vrymoedigheid, sonder om bang te wees, tegemoetstap. In hierdie wêreld is ons situasie immers presies dieselfde as Jesus s’n. Waar daar liefde heers, is daar nie plek vir vrees nie, veral nie vrees vir God se finale oordeel nie.

18. Ware, egte liefde verdryf eenvoudig alle vrees. Iemand wat dus nog sulke vrees in hom ronddra, se lewe is nog nie heeltemal deurdrenk met God se liefde nie. En hoekom nie? Want vrees is net heeltyd bekommerd oor die straf wat kan kom.

19. God het ons eerste liefgehad. Daarom kan ons ook nie anders as om lief te hê nie.

20. As iemand vertel dat hy God liefhet, maar liefdeloos teenoor ’n medegelowige optree, is hy ’n regte leuenaar. Dink net: As iemand nie eens die medegelowige liefhet wat hy elke dag sien nie, hoe sal hy God kan liefhê wat hy nie eens sien nie?

21. Wie God liefhet, het geen ander keuse as om ook sy medegelowige lief te hê nie. Dit is die opdrag wat Hy vir ons gegee het.