Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 1:5-10 Die Boodskap (DB)

5. Jesus het vir ons belangrike dinge kom sê. Ons het mooi na Hom geluister. Wat Hy vir ons gesê het, vertel ons nou weer vir julle. God kan vergelyk word met die lig wat skyn. Soos die lig die duisternis verdryf, so verdryf die teenwoordigheid van God die Bose heeltemal.

6. Hou dit nou in gedagte vir die volgende vraag: As ons rondvertel dat ons deel van God se intieme familie is, maar ons dade verklap die teenoorgestelde, wat maak dit van ons? Dit maak van ons skaamtelose leuenaars! Dit is soos mense wat sê hulle hou net van die lig, maar as jy hulle soek, sit hulle in die donker. So weerspieël ons mos nie die waarheid en egtheid wat eie aan ’n kind van God die Almagtige is nie.

7. Ons is alleen deel van hierdie hegte familie van God as ons optrede presies is soos God dit van ons verwag. Maar wat nou daarvan as ons iets doen waarvan God nie hou nie? vra jy dalk. Wel, dit is juis God se Seun, Jesus, se offerbloed wat ons geestelik silwerskoon was - daar bly nie een sonde oor nie! Dit beteken dat ons rein voor God kan staan.

8. Ja-nee, moet my nie verkeerd verstaan nie: as ons wil voorgee dat ons nooit sonde doen nie, slaan ons die bal heeltemal mis. Wie dit sê, praat nie die waarheid nie.

9. As ons egter voor God erken dat ons foute gemaak het en nooit weer dieselfde foute wil maak nie, sal God van sy kant af heeltemal van ons sondes vergeet. Hy sal ons ook geestelik skoon was van alles waarvan Hy nie hou nie. Glo dit maar, want God bly getrou aan sy beloftes en doen wat reg is.

10. Dan is daar nog van ons wat wil beweer dat ons nie foute maak of sonde doen nie. Verbeel jou! Deur dit te sê maak hulle van niemand anders nie as God self ’n leuenaar! Húlle verstaan nou regtig niks van God se boodskap nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 1