hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 13 Bybel vir Almal (ABA)

Simson word gebore

1. Die Israeliete het weer dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, en die Here het die Filistyne gehelp om die Israeliete 40 jaar lank te verdruk.

2. Daar was ’n man in Sora, sy naam was Manoag en hy was van die nageslag van Dan. Manoag se vrou kon nie kinders kry nie.

3. Die Engel van die Here het na die vrou toe gekom en vir haar gesê: “Jy kon nie kinders kry nie, maar jy sal nou swanger word en jy sal ’n seun kry.

4. Maar nou moet jy oppas, jy moenie wyn of bier drink nie en jy moenie iets eet wat onrein is nie.

5. Ja, jy is swanger en jy sal ’n seun kry, en hy moenie sy hare laat afskeer nie, want hy sal ’n nasireër van God wees vandat hy gebore is. En dit is hy wat sal begin om die Israeliete te red van die Filistyne.”

6. Die vrou het na haar man toe gegaan en vir hom gesê: “Iemand van God het na my toe gekom. Hy het gelyk soos ’n engel van God, en ek het baie bang geword. Ek het hom nie gevra van waar hy kom nie, en hy het nie vir my gesê wie hy is nie.

7. Hy het vir my gesê: ‘Jy is swanger en jy sal ’n seun kry, maar nou mag jy nie wyn of bier drink nie en jy moenie iets eet wat onrein is nie, want die seun sal ’n nasireër van God wees vandat hy gebore word totdat hy sterf.’ ”

8. Manoag het gebid en vir die Here gevra: “Asseblief, Here, laat daardie man wat U gestuur het, weer na ons toe kom. Hy moet vir ons leer wat ons moet doen met die seun wat gebore sal word.”

9. God het gedoen wat Manoag gevra het. Die Engel van God het weer na die vrou toe gekom. Sy het in die veld gesit en haar man Manoag was nie by haar nie.

10. Die vrou het vinnig na haar man toe gehardloop en vir hom gesê: “Die man wat na my toe gekom het, het nou weer gekom.”

11. Manoag het saam met sy vrou gegaan. Toe hy by die man kom, het hy vir die man gevra: “Is jy die man wat met my vrou gepraat het?”En die Engel het gesê: “Ja, Ek is.”

12. Toe vra Manoag: “Wanneer die seun gebore word, hoe moet hy lewe en wat moet hy doen?”

13. Die Engel van die Here het vir Manoag gesê: “Jou vrou moet oppas en sy moet alles doen wat Ek vir haar gesê het.

14. Sy moet niks eet wat uit die wingerd kom nie, sy moenie wyn of bier drink nie en sy moenie iets eet wat onrein is nie. Sy moet alles doen wat Ek vir haar gesê het.”

15. Manoag sê toe vir die Engel van die Here: “Jy moet asseblief by ons bly, net ’n kort tydjie. Ons wil vir jou ’n bokkie gereedmaak om te eet.”

16. Die Engel van die Here het vir Manoag gesê: “Ek sal ’n kort tydjie bly as jy dit wil hê, maar Ek sal nie iets eet nie. Maar as jy vir die Here ’n brand-offer wil gereedmaak, dan kan jy dit doen.”Dit was die Engel van die Here, maar Manoag het dit nie geweet nie.

17. Manoag het vir die Engel van die Here gevra: “Wat is jou Naam, want wanneer die dinge gebeur wat jy gesê het, dan wil ons jou eer.”

18. Toe sê die Engel van die Here vir hom: “Hoekom vra jy wat my Naam is? Jy sal nie my Naam verstaan nie.”

19. Manoag het die bokkie en ’n koring-offer geneem en hy het dit op die rots neergesit. Dit was ’n offer vir die Here. En toe het die Here ’n wonderwerk laat gebeur. Manoag en sy vrou het dit gesien.

20. Die vlam het van die altaar opgegaan in die lug, en die Engel van die Here het ook in die vlam opgegaan. Manoag en sy vrou het dit gesien, en hulle het laag gebuig, hulle gesigte was teen die grond.

21. Die Engel van die Here het nie weer na Manoag en sy vrou toe gekom nie. Maar Manoag het toe geweet dit was die Engel van die Here.

22. Daarom het Manoag vir sy vrou gesê: “Ons sal sterf, dit is seker, want ons het God gesien.”

23. Maar sy vrou het vir hom gesê: “Nee, die Here wil ons nie laat sterf nie, want Hy het ons brand-offer en ons koring-offer aanvaar. Hy het ook vir ons al hierdie dinge laat sien en laat hoor. Hy sou dit nie gedoen het as Hy ons wou laat sterf nie.”

24. Die vrou het ’n seun gekry en sy het hom Simson genoem. Hy het grootgeword en die Here het hom geseën.

25. Die Gees van die Here het in Simson begin werk toe hy in Magane-Dan was, tussen Sora en Estaol.